Brittanje se hertogin van Cambridge wil nie hê prins Harry moet met Cressida Bonas trou nie.

Die hertogin van Cambridge is glo nie juis geesdriftig oor die idee dat die 28-jarige prins met sy vrygeestige meisie trou nie, aangesien Cressida se halfsuster, Isabelle Calthorpe, die rede was waarom sy en prins William in 2007 ’n kort rukkie uitgemaak het.

’n Bron het aan die Daily Telegraph gesê: “Cressida het gesê dat Kate nie baie hou van haar verhouding met Harry nie. Cressie en Isabella kan nie nader aan mekaar wees nie. Waar sy gaan, gaan Bella.

“Kate hou nie van Isabella nie omdat William op haar verlief was en hulle daaroor uitgemaak het. Bella se behandeling op die koninklike troue sal nie vergeet word nie.”

Isabella, wat vroeër vanjaar met sir Richard Branson se seun Sam getroud is, is in 2011 na die hertog en hertogin van Cambridge se huwelikseremonie genooi, maar nie na een van die twee onthale nie.

William het ses jaar gelede sy verhouding met Catherine, wat voor haar troue as Kate Middleton bekend was, verbreek toe hy op Isabella verlief geraak het. Nadat sy hom verwerp het, is hy terug na Kate toe.