Catherine ondersteun haar glo terwyl Harry (29) in Antarktika gaan deelneem aan ’n ekspedisie ten bate van die liefdadigheidsorganisasie Walking with the Wounded.

Harry, wat die afgelope week in Suid-Afrika gestrand was weens slegte weerstoestande in die Suidpool, het vroeër uit Londen vertrek. Cressida is glo bekommerd oor die skeiding en het Catherine raad gevra. “Cressida is baie bly dat sy Kate aan haar kant het, veral noudat kontak met Harry amper onmoontlik is.”

Catherine het moeilik aan die kollig gewoond geraak voor haar verlowing aan prins William in Oktober 2010 ná ’n romanse van sewe jaar; daarom voel Cressida sy kan oor enige probleme met die 31-jarige gesels.

Die 23-jarige blondine het glo haar loopbaan as ’n danseres laat vaar sodat sy kan inpas by die koningsgesin, wat vir haar swaar is. “Kate het ook foute gemaak,” sê die bron. “Ek dink sy is spyt dat sy nie ’n werk gekry het voor sy aan William verloof geraak het nie; die bynaam Waity Katie spook vandag nog by haar.

“Kate kan dus met Cressy daaroor praat en haar ook vertel van die aandag wat sy sou trek as sy haar dansery sou voortsit. Elke keer dat sy ’n leotard aantrek, sou die foto’s wêreldwyd versprei word; en nie om die regte redes nie.”