En toe is dit die beurt van die uitgesproke en fabulous queen, soos Casper Zulch (21) van Rawsonville homself noem, om die Kokkedoor-kombuis in gisteraand se episode te verlaat.

Maar, sê hy, is daar geen trane nie. Hy praat met Huisgenoot oor onder meer sy tyd op die program, hoekom hy nog net twee episodes gekyk het en liefde wat behoorlik in die kombuis gekook het. Dis nou als verby. Hoe voel jy ná gisteraand se episode? Eintlik baie gelukkig. Ek het nie gehuil nie omdat ek weet ek het my beste gegee. Nie ek of Aletta (Coetzee, Casper se spanmaat wat ook uitgestem is) kon dit verhoed nie. Ons het eintlik ’n punt bereik waar dinge net te veel geraak het vir ons en die verlange huis toe was maar net te erg. Ek was wel baie teleurgesteld in verlede week se episode omdat mense agter my rug van my gepraat het. Hoe bedoel jy? In die dele waar die deelnemers alleen met die kamera praat, is goed agteraf gesê; dit het gereeld gebeur. Ons het almal geweet ons praat almal in die agtergrond oor mekaar. Nou sit ons net met die afwagting om in elke episode te sien wat almal oor mekaar te sê gehad het. Wie het wat gesê oor jou? Magda (Johnstone, Casper se vorige spanmaat) het gesê ek is iesegrimmig, ’n drama queen en vals. Op stel was dit ’n heel ander storie: Toe sê sy sy is halsoorkop verlief op my. Dis sommer k**. Maar ek weet as jy jou gaan steur aan wat almal sê, gaan jy nooit bo uitkom nie. Het jy op tye goed oor ander gesê waaroor jy spyt is? Ek kan nie onthou nie; ek was altyd baie reguit met mense. Ek het wel in die heel laaste episode iets gedoen waaroor ek vir die res van my lewe spyt gaan wees, maar vir nou kan ek niks sê nie. Wat het jy deur die hele ervaring van jouself geleer? Ek kan nie in ’n span werk nie – veral nie met mense wat nie gekwalifiseerd is nie. Is jy gekwalifiseerd? Ek was drie jaar lank by Boland Kollege, waar ek ’n sjefkursus voltooi het. Ek kon nie op skool bly nie omdat ek nie die nut daarin gesien het om byvoorbeeld geskiedenis en aardrykskunde te leer nie. Ek het skool einde gr. 9 gelos en toe sjefskool toe gegaan. Dit was fantasties. Dit maak jou vroeg groot en maak jou vinnig selfstandig. Dit het my gemaak wie en wat ek vandag is. Hoe was dit om jouself op TV te sien? Snaaks genoeg het ek eers twee weke gelede Kokkedoor begin kyk. Ek was te skaam; ek het nie geweet wat om te verwag nie. Daar was soveel kere dat ek my naam g** gemaak en goed gesê het wat my ná die tyd laat dink het: Wat het jy aangevang? Maar noudat ek begin kyk het, is dit nie so erg nie. Dis eintlik nogal nice. Dit was aangenaam om te sien hoe amazing dit op TV uitgedraai het. Was daar oomblikke wat jy bly is nooit uitgesaai is nie? Kan jy een van hulle met ons deel? O ja! Maar ek het nog net twee episodes gekyk. Ek weet wel Mathilda (Venter) en Marinda (Engelbrecht) se korrelkonfyt het kliphard-baksteen-tameletjie uitgekom in verlede week se episode. By die markdag het ons Mathilda die hele tyd onder die tafel gesien en ons kon nie verstaan wat sy doen nie. Op pad huis toe het sy ons vertel sy het stroop by Tiaan-hulle geleen om die konfyt te verdun. Ons het ons almal gekraak daarvoor! Dit was maar net ’n bewys dat ’n boer altyd ’n plan maak. Wat is jou vriende en familie se reaksie op jou TV-debuut? My vriende is mal daaroor. Hulle kyk elke episode en vra my ná die tyd ’n klomp vrae. Mense wat my lanklaas gesien het, maak ook nou weer kontak op Facebook. Word jy in die publiek herken? Hoe reageer jy? Ja! Dis die ergste van alles. Ek hou nie van mense wat my aankyk nie. Dis partykeer onaangenaam, veral as die mense maak of hulle jou ken. Maar ek het myself op ’n skinkbord gesit, so ek moet maar deal daarmee. Baie kykers sê jy klink soos Nataniël. Wat het jy daaroor te sê? (Hy skaterlag.) Nee, ek het nog niks daaroor gehoor nie, maar ek weet daar was ’n tyd een oggend toe ek baie grieperig geraak het; my stem was besig om weg te gaan. Toe sê Marinda later ek raak ’n bietjie hees, so miskien is dit dit. Ek en Nataniël het baie dieselfde styl . . . en natuurlik is ons albei fabulous queens. Watter deelnemer het jou die meeste beïndruk? Hoekom? Mynhardt (Joubert). Hy het vaste idees, maar kom altyd met iets nuuts vorendag. Hy was ’n absolute inspirasie. Baiekeer het dinge ge-flop, maar dan het hy dit vinnig reggeruk. Wat het jy in die Kokkedoor-kombuis oor kos maak geleer? Ek het nog nooit agar gebruik nie; dit word van seewier gemaak. Ek het nie geweet dit stol so goed nie. Ek het ook nog nooit wors gemaak nie; dit was nou pret! Sonder watter bestanddeel kan jy nie kook nie? Drank! Wat is vir jou die maklikste resep in die hele wêreld? Malvapoeding en roomys. Wat lê volgende vir jou voor? Van 6 tot 9 Junie is al die Wes-Kaapse Kokkedore by die Wacky Wine-fees op Robertson om die program ’n bietjie te bemark. Verder is ek nog werkloos. Selfs ná Kokkedoor is dit moeilik om werk te kry. Ek is baie lief vir kos maak, maar ek dink ek sal eerder front of house of in die vermaaklikheidsbedryf wil wees, net om met mense te werk. Jy weet, funksies . . . sulke tipe goed. Kos maak is my eerste liefde, maar ek wil nie in ’n kombuis vasgevang word nie. Gepraat van liefde, was daar enige liefde op stel tussen die deelnemers? (Skaterlag.) Ja, daar was, maar ek sê niks. Of kom ek stel dit so: Daar het iets gebeur onder die jongelinge . . . daar was omtrent ’n gevryery aan die gang. Hoe kan jou aanhangers in kontak met jou kom? Facebook: Casper Zulch E-pos: zulchc@gmail.com Kokkedoor word Donderdae, 20:00, op kykNET uitgesaai.