Huisgenoot se kosredakteur, Carmen Niehaus, vier vandeesweek 25 jaar by die tydskrif! Sy is nie net ’n bobaaskok nie, maar natuurlik ook die kantoor se lewensredder wanneer ons vasbrand met idees vir geregte vir ’n spesiale geleentheid of sommer net ’n vinnige aandete-idee wil hê.

Hier vra ons vir haar ’n paar vrae:

Wat is die snaaksste ding wat nog ooit met jou op ’n kos-fotosessie gebeur het?

Die stilis is nie eintlik veronderstel om aan die fotograaf se toerusting te karring nie, maar toe ek een dag so deur die lens loer en nou ook al uitgepluis het waar jy die slingertjies draai om die kamera se hoek te verander, doen ek dit toe mos weer. Dit was al laatmiddag, almal was moeg en om die minste te sê, eintlik al effe geïrriteerd. Ek draai toe daai slingertjie en boef, die volgende oomblik, land daardie kamera, lens eerste, binne-in die bord kos. Ek het natuurlik die verkeerde slinger gedraai! Borde stukkend, tafeldoek bemors, kos oraloor in die studio en die fotograaf het nie eintlik gedink dis baie snaaks nie. Gelukkig het die kamera heelhuids oorleef, maar ons is nog veel later eers huis toe!

Wat is die grootste krisis wat jy al self in die kombuis ervaar het?

Wanneer ek kos laat brand en dan het ek nie nog bestanddele oor om weer te maak nie. ’n Soufflé wat loop lê en roomys wat smelt, bly ’n uitdaging om te fotografeer. Vlieë by ’n fotografie-sessie in die buitelug wat alewig op die kos wil kom sit, bly ’n allemintige krisis wat kan sorg vir ’n groot verleentheid.

Wat is die vreemdste resep wat jy al as kosredakteur teëgekom het?

Oe, daar was al baie! Maar dié dat mense aartappelskyfies oor hul kos wil sprinkel of melktert met Cremora wil maak, bly vir my vreemd.

Watter aspek van jou werk geniet jy die meeste?

Die kreatiewe deel – ontwikkeling van resepte, op shoots wees en kontak met lesers.

En die minste?

Spertye!

Is daar sekere kosse wat jy nie eet nie?

Ek kan om die dood nie ’n groot steak geëet kry nie.

Is daar ’n kombuistoestel waarsonder jy eenvoudig nie kan klaarkom nie?

’n Vlymskerp mes en deesdae beslis ook ’n voedselverwerker.

Watter bestanddeel is vir jou goud werd?

Suurlemoen en jogurt.

As iemand nou in jou koelkas by die huis moet gaan krap, wat sal hulle daar kry?

Nie veel nie! Ek koop maar soos die Europeërs op ’n dag-tot-dag-basis. Maar beslis natuurlike jogurt en ’n paar botteltjies interessante geurpastas soos kerriepasta, chermoula, gemmerpiekels.

As jy een gereg elke dag vir die res van die jaar moes eet, wat sal dit wees?

’n Wonderlike slaai met ’n verskeidenheid geure en teksture. En natuurlik ’n lekker tuisgemaakte broodjie opgedollie met ’n hoop interessante bestanddele – dit bly vir my koningskos!

Wat sê Carmen se kollegas?

Izelle Venter, hoofredakteur van Huisgenoot, YOU en Drum:

Carmen is ’n legende; nie net in koskringe nie, maar veral onder ons lesers. As ons op feeste kom, dan is Carmen die een by wie ons lesers toustaan. Dis ’n voorreg om haar in ons span te hê: sy doen haar werk met absolute toewyding en geesdrif. Dink net – Suid-Afrika se kosbakke sou baie vervelig gewees het sonder haar! Ook meer ongesond en minder verbeeldingryk. Dankie, Carmen.

Liezel Joubert, leefstylredakteur van Huisgenoot, YOU en Drum:

Carmen se aanvoeling vir kos is iets wat nie gekoop kan word nie. Sy kan ’n resep so kyk en dan sommer vinnig laat weet wat kort, of die baktyd te lank is, of die bestanddele en metode klop en – die belangrikste – hoe dit sal proe!

Carmen se ervaring, waaruit ons gereeld delf, is van onskatbare waarde vir die hele leefstylspan. Wat my die meeste beïndruk, is dat sy ná 25 jaar steeds passievol is oor elke kosstorie, in detail elke resep goedkeur en toets en graag met nóg nuwe geurkombinasies, bestanddele en kosgiere eksperimenteer.

David Briers, senior fotograaf by Huisgenoot, YOU en Drum:

Ek en Carmen kom so goed oor die weg dat mense dikwels op ’n shoot vir ons vra of ons getroud is! Dié samesyn sorg vir die sukses van die foto’s op die kosblaaie. Carmen weet presies wat sy wil hê en is uitstekend om die aanbieding van kos op ’n manier te doen waaroor ons lesers dol is. Een ding wat ek by Carmen geleer het, is wanneer ’n ding gedoen moet word, moet dit gedoen word!

Henriëtte Loubser, redakteur: Huisgenoot

Toe ek in 1992 die eerste keer by Huisgenoot begin werk het, as ’n skrywer, was Carmen reeds ’n bekende naam. Ons moes soms saam aan artikels werk, soos die keer toe ingevoerde hoenders groot nuus was en ons getoets het of dit dieselfde smaak as ons plaaslike winkels s’n. ’n Klomp redaksielede moes blind kom proe; was dit nou vir jou ’n organisasie! Elke keer was my blywende indruk: Carmen is komkommerkoel en professioneel, maak nie saak hoe groot die druk is nie. Met die jare het dit dieselfde gebly; trouens, Carmen is nog net so gefokus en energiek soos toe ek haar leer ken het. Jy sien haar nooit stadig loop nie!

- Shané Barnard