Carl Pistorius, die broer van die moordbeskuldigde Paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, is steeds in ’n hoësorgeenheid nadat hy verlede week in ’n motorongeluk buite Modimolle, Limpopo, ernstige beserings opgedoen het.

“Carl is steeds in die hoësorgeenheid weens die ernstige aard van die beserings wat hy in die ongeluk opgedoen het en is steeds aan ’n ventilator gekoppel. Hy is stabiel en toon tekens van verbetering,” het die familie se woordvoerder, Anneliese Burgess, in ’n verklaring gesê.

Die ongeluk het Vrydagaand buite Modimolle gebeur toe ’n ander motor van voor in Carl se motor bots.

Hy moes met die kake van die lewe uit die wrak bevry word voor hy en die bestuurder van die ander na die hospitaal vervoer is. Albei is ernstig beseer.

Twee passasiers in sy motor is ongedeerd.

Saterdag het die Pistorius-familie ’n verklaring uitgereik wat sê Carl is medies “buite gevaar”.

Sondag het brig. Hangwani Mulaudzi gesê dit kan nog ’n “ruk wees” voor die ondersoek voltooi is; alle relevante inligting word in ’n dossier versamel. Maar hy het bygevoeg: “Ons gaan seker maak dit word so gou moontlik afgehandel.”

Hangwani het ook mediaberigte ontken dat dronkbestuur ook deel van die ondersoek is.

“Ons wil hierdie bewerings absoluut ontken.”

In Mei verlede jaar is Carl vrygespreek op ’n aanklag van strafbare manslag in verband met ’n ongeluk wat in 2008 plaasgevind het waar ’n motorfietsbestuurder oorlede is.

Intussen gaan slotbetoë in Oscar Pistorius se moordverhoor – in verband met die skietdood van sy meisie, Reeva Steenkamp – na verwagting Donderdag begin.