IN HAAR huis het alles ’n storie, vertel Carike Keuzenkamp sommer met die intrapslag.

En dit voel presies reg so in die lewe van die Suid-Afrikaanse musiekikoon wat kinders al dekades lank met haar storieliedjies vermaak. Praat van ’n doyenne van musiek . . . vandag kuier ons by haar aan huis.

‘‘Die klavier het ek by my pa gekry toe ek 12 was,’’ gesels Carike in haar huis in Randburg. “Dit was ’n groot present, want hulle het nie baie geld gehad nie. En die skildery was ’n geskenk van Manuel Escórsio vir my 60ste verjaardag. Dit is vir my so spesiaal, want ’n skildery is mos iets persoonliks; jy moet iemand se smaak goed ken om in die kol te wees.’’

Niks in hierdie huis is gekoop om ’n gat te vul nie, sê sy. ‘‘Alles wat hier is, is hier omdat ons dit in ’n stadium nodig gehad het. Of omdat dit vir ons mooi was. Die huis het saam met ons gegroei.’’

Op 63 is haar vel nog glad en blosend. Sy beduie na die kandelaar bo die ronde eetkamertafel. Deurskynende kristalle hang aan die punte van silwerpypies wat soos takke uit die kandelaar rank. ‘‘Die ding lyk eintlik uit pas met die res van ons meubels, maar dit was vir my en my man so mooi, ons moes dit eenvoudig koop.’’

In die huislike sitkamer staan geel rusbanke met ’n blompatroon voor die kaggel gerangskik. ‘‘Dis ons leefhuis. Ons bly al 38 jaar hier. Ek kan nie dink wat ons sal doen wanneer ons moet trek nie,’’ sê Carike en sug van genoegdoening.

Dit is hier, omring deur familiefoto’s van haar gesin wat die koffietafels en klavier vol staan, dat sy asemskep ná ’n besige dag. Dié ouma van twee sit selde stil, want ná ’n loopbaan van meer as 30 jaar is sy besiger en gewilder as ooit.

Die Sama-prys op die boekrak wat sy vanjaar gekry het vir ’n leeftyd se bydrae tot Afrikaanse musiek, en die talle sertifikate van goue en platinum-CD’s wat geraam teen die gangmure hang, beaam dit.

‘‘Dit voel amper soos ’n tweede loopbaan,’’ vertel Carike oor die verstommende sukses van haar kinderalbums.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 26 Augustus 2010