Camilla (66) reken die koninklike kleinding sal haar eerder op dié bisarre bynaam wil noem as om vir haar stiefouma te sê. Sy het vyf kleinkinders danksy haar kinders, Tom Parker Bowles (38) en Laura Lopes (35). Hul pa is haar eerste man, brigadier Andrew Parker Bowles (73).

Op ’n vraag wat sy haarself sal noem, het sy aan MailOnline gesê: “Dis iets waaroor ons sal moet dink. Ons het nog nie daaroor besluit nie. My eie kleinkinders noem my GaGa. Ek weet nie of dit is omdat hulle dink dis wat ek is nie. Dis snaaks, maar ook baie dierbaar.”

Terwyl Camilla oor haar gunsteling-byname gesels het, was haar man, prins Charles, besig om by die Sandringham-blommeskou in Norfolk, in die ooste van Engeland, geskenke vir sy twee week oue kleinseun te ontvang. Die publiek het sagte speelgoed, boeke en oulike klein uitrustings aangedra.

Charles (64) het gesê: “Dis wonderlik om ’n oupa te wees. Dis ’n heerlike gevoel, nè?”

Hy het ook van sy planne vertel om ’n kursus in babaversorging te volg sodat hy kan leer hoe om George op te pas.