Boere in die Calvinia-distrik is op hul knieë gedwing deur ’n verwoestende brand wat meer as 50 000 ha veld heeltemal afgebrand het.

[caption id="attachment_153568" align="alignnone" width="600"]Plase in die Calvinia-distrik is deur verwoestende brand getref. Foto: Verskaf Plase in die Calvinia-distrik is deur 'n verwoestende brand getref. Foto: Verskaf[/caption]

“Ons landerye is kaal en verwoes en al wat nou oorbly, is klippe en as,” sê ’n bedroefde André Steenkamp, 'n boer in die omgewing.

Die vuur het talle weikampe vernietig en boere het nie meer voer vir hul skape nie. Meer as 6 000 skape, waarvan ’n groot hoeveelheid dragtig is, benodig dringend voer om te oorleef.

André sê die brand het op 28 Desember weens ’n kortsluiting by ’n Eskom-kragboks op een van die plase ontstaan. Sedertdien probeer die boere en lede in die gemeenskap verwoed om die brand onder beheer te kry.

En terwyl groot dele van die land die afgelope naweek salige reën gekry het, het die veldbrand weens die droë wind en die droogte in die gebied by die dag net erger geword.

[caption id="attachment_153569" align="alignnone" width="600"]Sewe plase in die omgewing het heeltemal afgebrand. Foto: verskaf Sewe plase in die omgewing het heeltemal afgebrand. Foto: verskaf[/caption]

Sewe plase het heeltemal afgebrand en nege ander het ook erg onder die vlammehel deurgeloop.

Die gemeenskap en brandbestryders kon daarin slaag om bykans ’n week nadat die brand begin het die eerste vlamme te blus.

“Die brand is geblus ja, maar die skade op die plase gaan maande, selfs jare, neem om te herstel,” het André aan Huisgenoot gesê.

“As jy na jou grond kyk, sien jy net klippe en as. Dit is hartverskeurend vir elke boer wat deur die brand geraak is. Jy voel hopeloos. Reën gaan help, maar dit gaan baie, baie lank neem om ons landerye weer op die been te bring.”

[caption id="attachment_153570" align="alignnone" width="600"]Boere is desperaat vir voer vir hul skape. Foto: Verskaf Boere is desperaat vir skaapvoer. Foto: Verskaf[/caption]

Die boere -- meestal skaapboere -- benodig sowat 200 t voer (sowat 6 t per dag) om hul vee aan die lewe te hou.

Hulle doen ’n dringende beroep op ander boere en lede van die landbougemeenskap om hulle te help.

Kontak André Steenkamp by 082 520 8665 as jy hulp kan bied.