Die ster, wat voorheen as Bruce bekendgestaan het, het gister haar oorgang tot ’n vrou bekendgemaak deur in ’n onthullende korset op die voorblad van Vanity Fair te pryk.

Die 65-jarige was langer as 20 jaar met Kris getroud. Sy is die ma van sy twee dogters, Kylie en Kendall. Hul egskeiding is vroeër vanjaar afgehandel.

Tydens haar onderhoud met die glanstydskrif vertel die voormalige Olimpiese atleet van die skadukant van hul huwelik, wat in die werklikheidsreeks Keeping Up with the Kardashians uitgebeeld word.

“Die eerste 15 jaar het ek gevoel sy het my meer nodig, want ek was die broodwinner,” erken sy. “Maar toe raak die program gewild. Sy het die hele program bestuur en erkenning daarvoor gekry. Sy het haar eie geld gehad. Uit daardie oogpunt het sy my nie meer so nodig gehad nie . . . Ek dink sy het in vele opsigte minder verdraagsaam teenoor my geword.

“Dikwels was sy nie baie gaaf nie. Mense het gesien hoe ek mishandel word. Sy het onder meer die geld beheer.”

Kris het ook kans gekry om haar sê te sê. Sy voer aan Caitlyn was destyds gedurig “mistroostig”, want sy kon nie wees wie sy wou wees nie.

Caitlyn se familie is baie ondersteunend oor haar oorgang. Haar dogters, Kylie en Kendall, en stiefkinders, Kim, Khloé en Kourtney Kardashian, het almal in die openbaar hul trots uitgespreek.

Kim, wat haar tweede kind verwag, het dadelik Caitlyn se Vanity Fair-voorblad aan die hele familie gestuur. Maar haar broer, Rob, het eers nie die kloutjie by die oor gebring nie.

“Dit was baie snaaks, want al die meisies het geweet Caitlyn skiet dit. Maar my broer het geen idee gehad nie,” het sy laggend aan Access Hollywood gesê.

“Toe stuur ek dit met ’n massa-teksboodskap aan almal en my broer is daarop en hy vra: ‘Kim, hoekom stuur jy dit vir my? Wie is die vrou en hoekom traak ek?’

“Ek antwoord toe: ‘Rob, dis Bruce; dis Caitlyn.’ En hy laat hoor: ‘Liewe hemel, sy is pragtig.’” Volgens ’n bron het die ster die naam Caitlyn al kleintyd gekies. Terwyl haar ma, Esther, baie tevrede met die oorgang is, is sy nog nie gewoond aan die nuwe naam nie. “Ek moet hom steeds Bruce noem. Ek en sy pa het hom so genoem,” sê sy. “Dit gaan vir my moeilik wees om aan die verandering gewoond te raak, maar met graagte . . . Ek is baie bly vir hom – of haar! “Ek was verlede week daar. Wel, eintlik het ek ’n week en ’n half gelede by die huis gekom. En ek het Caitlyn ontmoet. Sy is . . . soveel meer op haar gemak.”

© Cover Media