Caitlyn Jenner kan dalk op aanklag van manslag vervolg word.

Daar word beweer die 65-jarige Olimpiese gouemedaljewenner het in Februarie ’n noodlottige ongeluk veroorsaak toe sy ’n ander voertuig op ’n kussnelweg in Malibu getref het. Vier voertuie was betrokke.

Volgens ABC7 Eyewitness News Los Angeles is die polisie se ondersoek nou afgehandel.

Volgens ’n hoofspeurder glo die betrokke verkeersmanne Caitlyn (toe nog Bruce) het voor die ongeluk gevaarlik vinnig gery; daarom gaan die polisie die saak aan die distriksprokureur oorhandig met die aanbeveling dat Caitlyn van manslag aangekla word.

Die 69-jarige Kim Howe is in die ongeluk dood.

Die distriksprokureur sal volgende week bepaal of Caitlyn aangekla gaan word.

Die ster van die werklikheidstelevisieprogram I Am Cait en van Keeping Up with the Kardashians is reeds twee keer in verband met die noodlottige motorbotsing vervolg.

Die familie van wyle Kim het in Mei ’n saak teen Caitlyn aanhangig gemaak, en in Junie het Jessica Steindorff, wat die botsing oorleef het, regsadvies ingewin. Jessica het aangevoer dat Caitlyn se motor hare van agter getref het.

TMZ het vroeër berig Jessica het aangevoer “(Caitlyn) het nalatig, roekeloos en onbedagsaam bestuur” en so “veroorsaak dat die klaer beseer word”.

Die ongeluk kan Caitlyn finansieel swaar tref. Jessica se voertuigversekering dek net $250 000 in die geval van ’n ongeluk; as die ster die hofsake verloor, sal sy ’n yslike bedrag aan regskoste moet opdok.

© Cover Media