Die aanlyn advertensiediens Gumtree het ’n meningspeiling gedoen oor mense se verhouding met hul ongebruikte besittings en bevind sowat 62 persent van mense hou kledingstukke wat lankal nie meer vir hulle pas nie.

Ander goed wat stof vergaar, is klein goedere, soos kampeertoerusting (12 persent), selfone (21 persent), DVD’s (40,5 persent), CD’s (34 persent), boeke (42,3 persent), fietse (12,4 persent) en porseleineetware (15,04 persent).

’n Aantal mense het ook ou motors, motorfietse, bote, sleepwaens en woonwaens wat al jare lank staan.

As dié goedere in ’n goeie toestand is, kan dit vir tot R35 000 elk verkoop word.

Die maatstaf wêreldwyd vir konsultante wat mense hul huise help opruim is dat as jy van iets kan ontslae raak as jy dit 12 maande lank nooit gebruik het nie.

Lees ook: ‘Demensie kan vertraag word deur ’n goeie sekslewe ná die ouderdom van 50’

By die 85 persent van die respondente op Gumtree het gesê hulle sal eerder van hul goed ontslae raak om ander mense te help en nie soseer om geld daaruit te maak nie.

’n Paar jaar gelede het OLX, ’n aanlyn advertensieportaal vir die koop en verkoop van produkte, ’n soortgelyke peiling gedoen en toe bevind 40 persent van Suid-Afrikaners vermoed hulle is opgaarders. Daar word gereken sowat 5 persent van die bevolking ly aan opgaringsteuring.

In die verlede is dit as deel van obsessiefkompulsiewe steuring beskou, maar dit hoort nou in ’n eie kategorie, sê Kevin Bolon, ’n Johannesburgse sielkundige.

Eers nadat hul bure, vriende of familie die owerheid in kennis gestel het, sal opgaarders hulp soek. Hulle het hulp nodig, want die aanskaf van besittings raak buite beheer en gooi hul lewe omver, verduidelik Emile du Toit, ’n Kaapse sielkundige. “Die tekens van verslawing is daar: magteloosheid, skade en ontkenning,” voeg hy by.

Die oorsaak van opgaring is baie ingewikkeld, sê Kevin. Dit kan ’n aangebore neiging wees; daar is dikwels ’n familiegeskiedenis van opgaring. Emosionele angs en depressie speel soms ’n rol en die meeste opgaarders sukkel om inligting te verwerk.

Ondersoeke wys opgaarders se gedrag vat dikwels pos ná ’n siekbed, gestremdheid of die dood van ’n geliefde, of ’n traumatiese gebeurtenis as kind, sê dr. Karen L. Cassiday, die Amerikaanse sielkundige van die TV-program Confessions: Animal Hoarding op die DStv-kanaal Animal Planet.

Lees ook: Opgewondenheid oor nuwe kankerbehandeling

“Om omring te wees met voorwerpe of diere kan in ’n onseker wêreld ongetwyfeld veiligheid skep,” skryf dr. Fred Penzel in Obsessive-Compulsive Disorders: A Complete Guide to Getting Well and Staying Well.

“Opgaarders is dikwels perfeksioniste en bang vir foute maak; daarom hou hulle op besluit om van enigiets ontslae te raak,” verduidelik prof. Randy Frost, wat sielkunde doseer aan die Smith-kollege in die Amerikaanse deelstaat Massachusetts.

Net kognitiewe gedragsterapie kan keer dat ’n opgaarder weer begin bymekaarmaak, verduidelik Kevin.

Hierdie soort psigoterapeutiese benadering behels onder meer dat praktiese planne beraam word om die opgaargedrag te verander.

Met die hulp van familie en professionele mense kan die opgaarder aan ander maniere dink om geborge te voel pleks dat hy of sy ’n magdom goed versamel.

Volgens die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging kan jy jou self toets om agter te kom of jy ’n opgaarder is deur die volgende vrae te vra:

  • Raak jy moeilik ontslae van items wat ander mense maklik wegmaak of herwin?
  • Is dit moeilik om by sekere kamers in jou huis uit te kom of hulle te gebruik weens al die items wat jy opgaar?
  • Hoe baie koop jy onnodige items of gaar goed op waarvoor jy nie nut of plek het nie?

* Vir inligting, besoek pawc.co.za.

Bronne: psychiatry.org, netwerk24.com, gumtree.co.za, Die Burger, health24.com, adaa.org, psychiatrictimes.com, iol.co.za, emiledutoit.co.za, betterhealth.vic.gov.au

– Deur Pieter van Zyl

Is jy ook 'n opgaarder? Ons wil graag jou storie hoor. Wat gaar jy op en hoekom? Laat weet ons by weg@huisgenoot.com

Ander stories op Huisgenoot.com:

28 sterf ná dodelike motorbom Turkse hoofstad ruk

Staatsamptenaar draai ses jaar lank stokkies – sonder dat iemand dit agterkom

Ken jy bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars se regte naam?

Opgewondenheid oor nuwe kankerbehandeling

Romantiese huweliksaanbod toe eintlik ’n wrede poets