Dit wil voorkom asof ’n sekere Kanadees dalk die fliek Up hopeloos te veel geniet het.

Daniel Boria (26) van Calgary in Kanada het besluit om die hemelruim in te vaar met die hulp van ’n tros kleurvolle balonne, soortgelyk aan wat in die animasiefliek gebeur het.

Daniel het genadiglik nie sy huis aan die balonne vasgebind nie maar wel die afgelope Sondag 110 heliumbalonne aan ’n gewone tuinstoel vasgemaak, daarop gaan sit en doodluiters opgestyg.

Spoedig was hy hoog bokant sy tuisdorp. Die tuinstoel is beslis nie die veiligste keuse om die hemelruim in te vaar nie, maar Daniel, boonop ‘n ervare valskermspringer, het gelukkig nie sonder Plan B die waagstuk aangepak nie. Hy het sy valskerm byderhand gehad.

Hy was van plan om uit die stoel te spring en in die middel van ’n groot rodeo-byeenkoms wat die dag in Calgary plaasgevind het, te land.

Die hele gedoente was deel van ’n publisiteitsfoefie waardeur Daniel sy skoonmaakprodukte-besigheid wou adverteer.

Alhoewel sy plan in beginsel goed geklink het, het die weer ander planne gehad. Sterk winde het hom sowat ’n kilometer van die rodeo af na ’n oop stuk veld laat wegdryf.

Daniel is kort daarna gearresteer en aangekla van ondeundheid en dat hy ‘n lewe in gevaar gestel het.

Hoewel die foefie nie heeltemal verloop het soos hy gehoop het nie, meen Daniel dit was tog die moeite werd. “Dit was die lekkerste ding wat ek nog ooit gedoen het,” het hy gister gesê.

Gelukkig vir hom het talle toeskouers die affêre dopgehou en die spektakel wild en wakker op sosiale media gedeel. Dit is ook op film vasgelê.

Bronne: Huffington Post; CNN