André en Sonja du Toit, voogde van die oorlewende Van Breda-kinders, sê die familie besoek Marli van tyd tot tyd. Martin en Teresa van Breda en hul seun Rudi het in Januarie-maand in ’n bylaanval omgekom. Rudi se broer en suster, Henri en Marli, het oorleef en Marli is sedertdien in die hospitaal. “Die meer as vier weke waartydens enige kontak met Marli nie moontlik was nie, was baie traumaties. Dit was vir ons as familie baie moeilik om haar nie te kon druk en vertroos nie. Marli lyk baie goed en die wonde het bykans heeltemal genees.

'“Sy mis haar familie baie.'

“Sy mis haar familie baie, maar besef dat Martin, Teresa en Rudi in die hemel is. Haar sonskynglimlag en goeie sin vir humor het al die wag die moeite werd gemaak.”

Volgens die verklaring sal haar behandeling en rehabilitasie waarskynlik nog ’n geruime tyd duur. Die familie glo sy sal “deur die Vader se genade en met die ondersteuning van almal wat vir haar omgee” volkome herstel.

Die verklaring sê ook ondanks Marli se vordering kon sy nog nie ’n polisieverklaring aflê nie, maar die familie glo haar toestand sal so verbeter dat sy dit binnekort sal kan doen. Haar voogde het dit goedgedink om ’n regsverteenwoordiger aan te stel wat na haar beste belange kan omsien.

Onder omstandighede gaan dit redelik met Henri, het hulle bygevoeg. “Hy is in goeie sorg en ontvang ondersteuning” om hom “hierdie uiters traumatiese en tragiese gebeurtenis” te help hanteer.

“Die familie en veral Henri is pynlik bewus van die bewerings en aantygings wat in die media teen hom gemaak word, asook bespiegelinge in hierdie verband. Uit respek vir die onafgehandelde polisieondersoek sal hy eers in ’n latere stadium hierop wil reageer.”

Laastens het hulle bekendgemaak die gesinswoning waar die moorde plaasgevind het, is op 28 Februarie weer aan die familie beskikbaar gestel en dat hulle stappe sal doen om dit op te ruim.

Daarna sal die eksekuteurs van die onderskeie boedels die saak verder behartig.