So het Ben Rootman, die familiewoordvoeder, by navraag aan Huisgenoot gesê. Mense landwyd is geruk toe drie lede van die oënskynlike perfekte Van Breda-gesin in die vroeë oggendure van Dinsdag 27 Januarie in hul spogwoning op die De Zalze-gholflandgoed by Stellenbosch afgemaai is. Die jongste van die Van Breda-kroos, Henri (20) en Marli (16), het die aanval oorleef.

Sedertdien het die polisie besonderhede oor die ondersoek dig toegehou en benewens enkele details wat aan die media gelek is, bly die Van Breda’s se laaste ure ’n raaisel. “Neem asseblief kennis dat daar geen nuwe ontwikkelings is wat ons met die media kan deel nie,” het lt. lol. André Traut, polisiewoordvoerder, gesê.

Die Van Breda’s verkies ook om tjoepstil te bly oor dié moordraaisel wat mense landwyd aan die gons het. “Dit is die familie se beleid om die Suid-Afrikaanse polisie toe te laat om die ondersoek te hanteer en om nie daarop kommentaar te lewer nie,” verduidelik Ben.

Henri is al Van Breda wat die gruwelike bylaanval byna ongeskonde oorleef het. Marli (16) het ernstige kopwonde opgedoen en ly nou aan retrogressiewe geheueverlies – sy kan niks van die aanval onthou en so die gebeure van die noodlottige moordnag ontsluit nie.

Regter Siraj Desai het onlangs beslis dat Marli voortaan by haar voogde, André en Sonja du Toit van Durbanville, moet inwoon. Henri het in die tydperk ná die bylaanval ook in sy tannie-hulle se sorg gebly, maar Ben bevestig aan Huisgenoot dat Henri nou op sy eie woon.

Hoewel Henri en Marli mekaar al sedert die aanval gesien het, is dit nie duidelik hoe gereeld broer en suster met mekaar in aanraking is nie.

“Die familie waardeer alle belangstelling en navrae oor Marli, maar doen weer ’n beroep dat sy toegelaat word om haar herstel- en sosialiseringsproses sonder inmenging aan te pak. Wanneer die tyd geleë is, sal inligting oor haar vordering bekendgemaak word,” het Ben by navraag gesê.

- Almari Wessels