bredamain2

Deur Almari Wessels

WANNEER presies het Martin (54), Teresa (55) en Rudi (22) van Breda gesterf nadat hulle verwoed met ’n byl aangeval is?

Nadat die driedubbele moord op die oënskynlike perfekte gesin Van Breda verlede Dinsdag skokgolwe deur die land en elders gestuur het, is aanvaar dat die gesin in die vroeë oggendure van Dinsdag 27 Januarie om die lewe gebring is.

Die polisie het die Dinsdagoggend omstreeks agtuur op die moordtoneel opgedaag ná die middelkind, Henri (20), die nooddienste gebel het. Maar op die begrafnisblaadjie wat vanoggend uitgedeel is by Martin, Teresa en Rudi se gedenkdiens in die NG kerk Moreletapark, Pretoria, word dié drie se sterfdatum as 26 Januarie aangegee.

Beteken dit dan hulle is al die Maandagaand voor middernag oorlede, etlike ure voor die polisie op die toneel gekom het? By navraag wou polisiewoordvoerder lt.kol. André Traut nie die sterfdatum van die Van Breda’s aan Huisgenoot bekendmaak nie. “Ek kan jou dit nie sê nie,” het André gesê, en bygevoeg: “Die toetse om te bepaal wanneer hulle oorlede is, is al gedoen, maar ek weet nie of die familie al die uitslag daarvan weet nie.” Henri is al Van Breda wat die gruwelike byl-aanval byna ongeskonde oorleef het. Sy jonger suster, Marli (16), veg nog om haar lewe in die Vergelegen Mediclinic op Somerset-Wes en is glo onder streng polisiebewaking; nie eers familie of vriende word by haar toegelaat nie.