Dit is vandag presies ses maande sedert Martin (54), Teresa (55) en hul seun Rudi (22) van Breda in ’n bylaanval in hul luukse huis op die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch vermoor is.

Geen verdagtes is ook nog sedert die grumoorde geidentifiseer of in hegtenis geneem nie.

Marli (16) en haar broer Henri (20) is die enigste lede van die gesin wat die wrede aanval op 27 Januarie oorleef het.

Marli het egter ernstige kopbeserings opgedoen en ly aan retrogade geheueverlies wat beteken sy kan niks van die voorval onthou nie.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is vir ’n tweede keer besig om die moorddossier te bestudeer.

Rapport het Sondag egter onthul dat daar ’n moontlikheid is dat die ondersoek gestaak kan word omdat senior Wes-Kaapse speurders meen daar is nie genoeg bewyse om enig­iemand vir die moorde suksesvol te vervolg nie.

Volgens Netwerk24 het Rapport berig dat die saak vir ’n geregtelike ondersoek verwys word. Dit beteken dat ’n landdros die saak bestudeer en besluit of enigiemand vervolg kan word vir die moorde.

Die landdros kan ook die persoon of persone wat hy meen ’n moontlike verdagte is as getuie roep of bevind dat daar voldoende redes is dat ’n vervolging kan plaasvind.

Volgens EWN het die polisie egter ontken dat die ondersoek gestaak gaan word.

Bronne: Netwerk24, EWN

Ook op Netwerk24:

Ek wil hulle in die oë kyk, sê seun ná pa se moord

Pensioenaris huil van pyn 10 maande ná amputasie