Henri van Breda en sy 16-jarige suster, Marli, het die bylaanval in die gesin se huis op die De Zalze-gholflandgoed oorleef. Hul ouers, Martin en Teresa en ouer broer, Rudi, is in die aanval dood.

Die Sunday Times het berig die polisie ondersoek verskeie motiewe vir die moord, insluitend dat Henri se ouers sy toelaag gestaak het.

Te midde van berigte dat Henri verlede jaar in ’n dwelmrehabilitasiesentrum was, het ’n man ook na vore gekom met inligting dat hy na bewering gereeld dwelms aan die 20-jarige seun verskaf het.

Volgens die Sunday Times-berig glo die polisie Henri was verslaaf aan tik en sal hulle sy rekords nodig hê om hul vermoedens te bevestig.

Maar ’n familiewoordvoerder, Ben Rootman, was huiwerig om oor die beweerde verslawing en behandeling te praat.

“Dit kan ons nie bevestig nie. En dit sal onverantwoordelik wees om van die familie se kant af te spekuleer.”

Intussen het Marli volgens Rapport weer begin praat en kan sy eenvoudige vrae beantwoord.

Bronne: EWN, Sunday Times, News24, Rapport