‘Hy het God gesmeek om haar lewe te red.’

“Hy het God gesmeek om haar lewe te red, en hy het Reeva gepraat en haar gesmeek om asseblief by hom te bly,” het Carice Viljoen gesê.

“Hy het gesê: ‘Bly by my, my lief. Bly by my.’ ”

Carice en haar pa, Johan Stander, was die eerstes op die toneel nadat Oscar Reeva op Valentynsdag verlede jaar geskiet het.

Die Paralimpiese atleet, wat beweer hy het Reeva vir ’n inbreker aangesien, staan tereg weens haar moord.

Oscar het Johan om 03:18 gebel, kort nadat hy Reeva geskiet het. Johan en Oscar woon albei op die Silver Woods-landgoed in Pretoria.

Carice het gesê sy het haar motor in die straat parkeer en haar gevaarligte aangesit. Sy en haar pa het toe uit die motor geklim en na die voordeur beweeg, wat op ’n skrefie oop was.

“Toe ek die deur oopmaak, het ek Oscar Reeva by die trap sien afdra,” het sy gesê.

Sy het verduidelik dat Oscar op die tweede oorgang van die trap was.

“Dit was duidelik dat hy taamlik vinnig beweeg het. Van die oomblik dat ons by die huis ingestap het, was hy rasend. Hy wou haar net ’n by hospitaal kry.”

Sy het gesê sy het hom gevra om Reeva neer te sit sodat hulle kon sien wat sy makeer.

“Hy het my gesmeek om haar in die motor te sit en hospitaal toe te neem,” het sy huilend gesê.

Soos Carice in trane uitgebars het, het Oscar gebukkend gesit en sy oë met sy linkerhand bedek.

Barry Roux, SC, (vir Oscar) het Carice aangeraai om ’n oomblik te neem om te probeer kalmeer.

Hospitaal

Volgens Carice het Oscar haar herhaaldelik gevra om Reeva hospitaal toe te neem en het aangebied dat sy sy motor kan gebruik.

“Ek het gesê hy moet haar neerlê. Ek het oral net bloed gesien. My pa het toe buite gestaan om’n ambulans te ontbied,” onthou sy.

“Ek het aan Reeva se een kant gekniel en Oscar aan die ander kant. Hy het gesmeek dat ons haar hospitaal toe moes neem.”

Sy sê sy het toe besef hulle moet die bloeding stop en het na die tweede verdieping gegaan om handdoeke te kry.

Hulle het druk op Reeva se regterheup toegepas.

“Hy het die meeste van die tyd sy vinger in haar mond gehad, vermoedelik om haar te help asemhaal,” het Carice gesê. “Hy het my gevra om my vinger in haar mond te sit. Hy het my die hele tyd gevra waar die ambulans is en ons het in daardie stadium net ons bes probeer.” Volgens Carice het sy met Oscar gepraat en terwyl hulle die bloeding probeer stop het, hom gevra wat gebeur het.

‘Hy het na my gekyk en gesê hy het gedink sy was ’n inbreker.’

“Hy het na my gekyk en gesê hy het gedink sy was ’n inbreker.”

Sy sê sy het nie verder ingevra nie omdat hulle besig was om Reeva se lewe te probeer red.

Toe die paramedici daar aankom, het sy Oscar gevra om eenkant toe te staan sodat hulle hul werk kon doen.

“Oscar was in ’n toestand en het hulle gevra om alles in hul vermoë te doen om haar lewe te red.”

Die atleet het na die tweede verdieping gegaan om Reeva se handsak te kry nadat die paramedici vir identifikasie gevra het.

Volgens Carice het sy nie saam met hom gegaan nie, maar toe sy besef die pistool is nog daar bo, het sy hom agtervolg.

“Ek het gedink hy gaan homself skiet en ek het hom geroep en gesê hy moet die handsak bring.”

Die hof het tot Dinsdag verdaag.

- Sapa