Eers ure nadat daar ’n skietery was in ’n huis in die kompleks waar sy woon, het sy gehoor dit was Oscar Pistorius wat sy meisie doodgeskiet het.

Nie eens toe haar man, dr. Johan Stipp, teruggekom het van die huis waar die skietery was, het hulle geweet dit is Oscar wat die sneller getrek het nie.

So het Annette Stipp, ’n arbeidsterapeut, vanoggend in die hooggeregshof in Pretoria tydens die lemnaeler se moordverhoor getuig.

Annette is die vrou van dr. Johan Stipp, ’n radioloog wat vroeër in die verhoor getuig het.

Die Stipps woon in die straat agter Oscar in die Silver Woods-landgoed in die ooste van Pretoria.

Hul huis is net oor die 70 m van Oscar s’n af.

Annette het vanoggend getuig oor Valentynsoggend verlede jaar en die skote en gille wat sy kort ná drieuur gehoor het. Sy het uit haar balkondeur gekyk en gesien twee huise se ligte was aan. Die een huis was Oscar se huis. Nadat alles kalmeer het, is haar man na die huise om te help.

Hy het vroeër getuig dat hy Reeva aan die onderkant van die trap gekry het, met Oscar wat langs haar met sy hande op haar wonde gesit en huil het.

Annette het vanoggend getuig dat sy haar man gevra het wat gebeur het toe hy ná vieruur by die huis gekom het.

“My man het gesê die man het sy meisie doodgeskiet. Ons het nie geweet dit is Oscar nie.

“Ek is deel van ’n Whatsapp-groep. Later daardie oggend het almal vertel van hul Valentynsoggend. Ek het vertel van ons crappy een.”

Annette het haar vriendinne vertel van die buurman wat sy meisie geskiet het. Kort ná agtuur het ’n vriendin haar gebel en gevra of sy na die nuus luister, want sy is seker dat haar buurman Oscar is en dat hy sy meisie, die model Reeva Steenkamp, doodgeskiet het.

Adv. Kenny Oldwadge, deel van Oscar se regspan, het Annette se kruisondervraging hervat.

- Hilda Fourie