Beer, wat naam gemaak het as lid van die musiekgroep Zinkplaat, is eersdaags te sien in die kykNET-reeks Hotel. Die veelsydige kunstenaar het ook al die lagspiere gekielie in die kykNET-sketse Boer Giel uit snaakse parodie Boer soek ’n Ou.

Op 19 Mei het hy salig uit sy woonstel in die Kaapse voorstad Tuine geloop om in sy wit Mercedes-Benz 230 te klim. Toe hy die sleutel in die sleutelgat wou druk, sien hy Big Bertha – soos hy sy kar noem omdat sy ’n “robuuste dame met ’n swaai in haar gat is” – is skoonveld. Beer het dadelik aangeneem sy is gesteel en ’n foto van haar op sosiale media geplaas.

“As iemand dalk vir Big Bertha a.k.a ’n wit Mercedes-Benz 230, ’91- model, met nommerplaat CY 464 iewers sien rondry, bel my asseblief of gooi die bestuurder met ’n butternut. Sy is iewers vandag hier voor my woonstel in Gardens ontvoer,” het hy geskryf.

Op die foto wat hy gedeel het, het dit gelyk of hy die booswigte op kamera vasgevang het, maar hy het sy Facebook-vriende gerusgestel. “Die manne in die foto is my vriende, Vinnie (Luca Vincenzo) en Leceur (Viljoen), wat saam met Big Bertha ’n cameo in Buurtwag gemaak het, nie die ware skurke nie. En ja, die ironie van ek wat ’n reeks oor ’n Buurtwag skryf terwyl my kar gesteel word, ontgaan my nie . . .”

[caption id="attachment_128805" align="alignnone" width="600"]Beer en sy Bertha herenig! Foto: Facebook Beer en sy Bertha herenig! Foto: Facebook[/caption]

Sowat ’n week ná die voorval het hy Bertha opgespoor. Hy sê hy was ’n paar minute lank verlig, maar toe begin hy rooi sien. “Dit blyk toe ’n moedswillige buurman het haar laat wegsleep.”

Arme Bertha is by ’n motorhawe in Ndabeni gevind. Hy raak skoon liries wanneer hy oor haar praat. “Jy moet voel hoe seil sy oor ’n spoedhobbel,” sê hy. Bertha was self ook in die kalklig toe sy in die eerste seisoen van Buurtwag was. “Ek was beïndruk met haar toneelspel,” spot hy.

Beer wil nog nie veel sê oor ’n nuwe seisoen van Buurtwag nie, maar dié program is vanjaar in die kategorie drama en sitkom benoem vir ’n Huisgenoot-Tempo-toekenning vir TV-reeks van die jaar.

Die benoemdes in die kategorie TV-reeks van die jaar (drama of sitkom) is:

Bloedbroers

Buurtwag

Die Boekklub

Getroud met Rugby

Sterlopers

Terug na Egipte

Albert Maritz van Buurtwag is ook benoem vir akteur van die jaar in ’n drama/sitkom. Die benoemdes in die kategorie is:

Adrian Alper – Die Munisipaliteit van Gwarra Gwarra, Sterlopers, Terug na Egipte

Albert Maritz – Buurtwag

Armand Aucamp – Die Boekklub

Chris van Niekerk – Die Boekklub, Terug na Egipte

Frank Opperman – Terug na Egipte

Hykie Berg – Bloedbroers

STEM HIER VIR JOU TEMPO-GUNSTELINGE EN JY KAN ’N MOTOR WEN

[caption id="attachment_128799" align="alignnone" width="600"]Big Bertha Big Bertha[/caption]