“Ons het mnr. Pistorius probeer kalmeer. Hy was gebroke,” het Johan Stander geantwoord op die ondervraging van Kenny Oldwage (vir Oscar).

“Hy het gegil, hy het gehuil, hy het gebid. Hy was stukkend, gebroke en desperaat.”

Oscar het Johan om 03:18 op Valentynsdag verlede jaar gebel, kort nadat hy Reeva geskiet het. Johan en Oscar woon albei op die Silver Woods-landgoed in Pretoria.

Johan het aan die hof gesê dat Oscar hom gebel het en die volgende gesê het: “Oom Johan, kom asseblief, asseblief, asseblief na my huis toe. Ek het Reeva geskiet; ek het gedink sy is ’n inbreker.”

“Kom asseblief, asseblief, asseblief gou.”

Volgens Johan het hy uit die bed geklim en sy dogter het uit haar kamer gekom en gesê sy het iemand hoor skree. Sy vrou het toe gesê Oscar het gebel om te sê hy het Reeva geskiet.

Hy het gesê sy dogter het bestuur en het in die straat parkeer.

“Ons twee het ons na die voordeur gehaas; dit was op ’n skrefie oop en daar het lig gebrand,” het hy onthou.

Hy het gesê die deur was op ’n skrefie oop en sy dogter was voor hom en het die deur oopgedruk.

“Ons het mnr. Pistorius by die trap sien afkom met Reeva in sy arms,” het hy gesê.

“Toe hy ons sien, kon ek die verligting op sy gesig sien.”

Hy het gesê toe Oscar die onderkant van die trap bereik, het sy dogter Oscar gevra om Reeva neer te sit.

“Hy het regtig gehuil. Hy het pyn gehad en het gevra ons moet hom asseblief help om Reeva in die motor te sit en hospitaal toe te neem,” het hy gesê.

Johan was emosioneel en Kenny het hom aangeraai om sy tyd te neem.

Reeva se ma, June, was Maandag in die hof met haar prokureur en vriend. Die Myers-gesin, June se vriende van Johannesburg, was ook in die hof.

- Sapa/Hilda Fourie