Burger King in SA

Kaapse kitskos-liefhebbers het nou nog ’n hamburger om van te kies. Burger King, die naasgrootste kitskos-restaurant ter wêreld, se eerste Suid-Afrikaanse tak het vandag in die middestad oopgemaak.

Honderde Kapenaars het in ’n ry buite die restaurant gewag om die wêreldbekende Whopper-burger te proe. Die eerste duisend klante kon een gratis kry en bekendes soos die TV- en radio-aanbieder Liezel van der Westhuizen en die komediante Marc Lottering was ook daar om in die vreugde te deel.

Maar die restaurant in Heerengracht is net die begin. Hassen Adams, die voorsitter van Grand Parade Investments wat die Burger King-regte in Suid-Afrika besit, het die afgelope week aan Moneyweb gesê daar is groot planne. “Ons behoort teen die einde van die jaar ses restaurante aan die gang te hê. Ons wil vanjaar ook minstens twee deurry-restaurante oopmaak.”

In die eerste fase konsentreer hulle op die Kaap, maar Hassen het gesê hulle sal binnekort ook begin beplan aan Gautengse restaurante.

Burger King bestaan al van 1954 af en die eerste tak buite die VSA is in 1963 in Puerto Rico oopgemaak. Vandag het dié groep 13 000 restaurante in 88 lande, maar Suid-Afrika is slegs die derde land in Afrika wat met die tuiste van die Whopper kan spog. Saam is daar 25 takke in Egipte en Marokko.

’n Whopper kos R23,90. Gaan loer na die spyskaart by www.burgerking.co.za.

Bronne: www.bk.com, Moneyweb.co.za