’n Britse paartjie, wat in Suid-Afrika gebore is, se droom van ’n rustige aftrede in die sonnige Suide van Frankryk lê aan skerwe nadat hul bure hul huis toegebou het.

Inwoners van die dorpie Brugairolles aan die voet van die Pireneë was so geskok deur die opsluiting dat hulle saamgespan het om die bejaarde egpaar te red. Hulle het ’n muur voor die huis afgebreek en vensters en deure oopgedwing wat toegekap was.
'Ons kon nie aanvaar dat hulle moes aanhou leef in sulke verskrikking nie'

“Ons kon nie aanvaar dat hulle moes aanhou leef in sulke verskrikking nie,” sê die afgetrede Franse Republikeinse Wag-lid Jeannot Gach (83), wat die poging help lei het om Faith en John Dyson (albei in hul 70’s) uit hul huis te bevry.

Die Dyson-egpaar se folteraars is nie jaloerse inwoners wat kwaad is oor mense wat van buite kom en eiendomspryse opjaag nie, maar is ook ’n Britse paartjie wat woedend was omdat die Dysons blykbaar op ’n laning oortree het wat na bewering aan hulle behoort.

Inwoners het aan AFP gesê die Dunlop-egpaar het eers die Dyson-egpaar met ’n groot vervoerwa versper voor hulle op ’n permanenter versperring besluit het.

Jeannot het gesê die Dunlops het hul bure se vensterluike toegekap en hul deur versper met houtpale wat in die grond geanker is. Die Dysons is toe gedwing om hul agterdeur te gebruik.

Die Dunlop-egpaar het eindelik verlede week, toe die Dyson-egpaar uit was om inkopies te doen, ’n muur begin bou wat so hoog soos die huis se tweede verdieping is.

“Hulle het gewag tot ons uit die huis is voor hulle begin bakstene lê het,” sê John Dyson, wie se gesondheid swak is.

Toe het die hele dorp Maandag saamgestaan om onder die wakende oog van die plaaslike gendarmes teen die Dunlop-egpaar se optrede beswaar te maak, sê Jeannot. “Almal was daar en het luidkeels protes gelewer teen hierdie aaklige bure.”

“Ons het op die balju gewag sodat hy kan sien wat hulle gedoen het,” het hy bygevoeg. “Daarna het ons die muur afgebreek en die deur en die luike oopgemaak.”

“Ek het nie woorde vir mense soos die Dunlops wat hul bure in totale duisternis wil laat leef nie,” het hy bygevoeg.

Die dorpie is in die hartjie van die die skouspelagtige Kathar-gebied in die Aude, waar daar ironies genoeg ’n geskiedenis is van soortgelyke vervolging. Die Kathare, ’n ketterse sekte, is in die Middeleeue genadeloos deur die Inkwisisie onderdruk; honderde is in hul huis of in grotte opgesluit.
'Die Dysons word al jare lank geteister.'

“Die Dysons word al jare lank geteister, maar sedert Maart het dit erger geraak,” het die dorp se burgemeester, Alain Labattut, gesê. “Hulle is geterroriseer,” het hy aan AFP gesê.

Die Dyson-egpaar is gewild op die dorp met sy 258 inwoners – van wie sowat 40 Britse burgers is.

Die Dunlop-egpaar is minder gewild, sê die burgemeester, ná onderonsies met ander bure.

Maar die gebore Skot Robert Dunlop (67) het in die verlede glo drie vergiftigingspogings oorleef en het op ’n keer by die polisie in Glasgow gekla.

Die burgemeester het AFP ’n brief van 14 bladsye gewys wat Robert aan die Franse oudregter Rachida Dati geskryf het waarin hy beweer drie aanslae is op hul lewe gemaak.

Die Dunlop-egpaar, wat tydens die protesaksie in hul huis gebly het, het geweier om met joernaliste te praat. Toe AFP hom in Engels vra of hy kommentaar wil lewer, het hy geantwoord: “Ek is doof. Ek hoor nie wat jy sê nie; ek is doof.”

Sy Poolse vrou, Krystina (in haar 50’s), het geweier om kommentaar te lewer.

Die Dyson-egpaar is in Suid-Afrika gebore voor hulle vir werk Engeland toe verhuis het. Hulle het in 2004 afgetree en Frankryk toe getrek om hul goue jare in die son deur te bring. Die Dunlop-egpaar het ’n jaar later daarheen getrek.

“Aan die begin het hulle vriendelik voorgekom, maar toe parkeer hulle die vervoerwa voor die deur,” het John gesê. “Toe raak hulle ál leliker.”

- Béatrice Khadige/Sapa

Maak só met raserige bure