Kaapstad -

Die wyksraadslid Jacques Weber het Maandag gesê die Stad Kaapstad se diere-eenheid is besig om die ondersoek te voltooi wat binnekort aan die staatsaanklaer voorgelê sal word om op die pad vorentoe te besluit.

Die hond se eienaar kan aanklagte onder die diere-regulasiewet in die gesig staar vir die aanval. Twee vroue in hul laat sewentigs moes in die hospitaal vir bytwonde aan hul arms en hande behandel word.

Jacques het gesê dis onduidelik of die hond, wat aanvanklik as ’n pitboelterriër geïdentifiseer maar sedertdien as bulterriër bevestig is, losgebreek het van sy leiband en of hy sonder een rondgeloop het.

Volgens ooggetuies het die hond agter ’n Maltese poedel gehardloop en dit aangeval en toe die eienaar tussenbeide probeer tree, het die bulterriër haar aan die arm gebyt. Toe die vrou se maat wou intree, is sy ook gebyt.

Die bulterriër het daarna weggehardloop en nog ’n hond gebyt. Die gewonde honde is na die veearts geneem, een vir beserings aan die bolyf en die ander vir ’n gebreekte been.

Hoewel die vroue diep bytwonde opgedoen het, sê Jacques dit het goed gegaan met albei toe hy hulle oor die naweek gesien het.

Bron: News24