HY IS ligweg gefrustreerd. Sy selfoon bly uitsny terwyl hy ’n bloemis in Parys probeer opspoor wat ’n blommerangskikking vir sy meisie, die model Jenna Petersen, sal aflewer. Dis ’n gelol...

Die geniepsige Hoëveldse wind het Francois Hougaard (22) se haarstyl verfomfaai, maar hy dink nou net aan blomme. “Ek ken Jenna al jare lank, maar ons het eers ’n paar weke gelede begin uitgaan,” vertel hy. “Nou werk sy in Parys en ek wil haar laat weet ek dink aan haar.”

Francois, kookwater-vleuel van die Bulls, het in die Super 14-halfeindstryd teen die Crusaders in Soweto ’n besering opgedoen en moet naby sy dokters in Pretoria bly om sy vordering te laat monitor. Hy vroetel met die gipsverband aan sy regtergewrig en maak die Velcro-bandjies los en vas.

“Dit is frustrerend om nie te kan speel nie, ek raak baie gou verveeld. Ek dink ook ek het ’n goeie kans gehad om die Springbokspan vir die toets teen Frankryk te haal. Maar . . . ” beduie hy met die arm.

Dis moeilike dae, maar hy’t steeds ’n selfversekerde stappie. Hy glimlag maklik, trek sy hand deur sy stylvolle hare en kry die deurmekaar voorkoms net reg voor hy vertel van daardie tipiese Hougaard-duikslag wat hy elke keer uitvoer wanneer hy instorm vir ’n drie.

“Hoe dikwels kry jy die kans om in die Super14 ’n drie aan te teken? Ek weet nie waar dit vandaan kom nie, maar ek is so opgewonde wanneer ek punte aanteken dat ek dit wil vier!”

Lees meer oor Francois in die Huisgenoot vam 24 Junie 2010