Soos enige Pretorianer vir jou sal sê, is die Jakarandastad die middelpunt van die rugbyheelal.

Hulle het ’n wêreldklasstadion, passievolle aanhangers en ’n span wat alles voor hulle uit die pad loop. Maar nou is daar skielik ’n skadu oor hul volmaakte rugby-paradys.

Skielik was dit nag in Pretoria toe die Blou Bulle se skrumskakel, Fourie du Preez – volgens baie rugbykenners op die oomblik die wêreld se beste speler – aankondig: “Ná 11 jaar by die Bulle gee ek myself die kans om die toneel te verander en om my aan ’n ander kultuur bloot te stel. Hierdie kontrak sal my toelaat om dit te doen.”

Hy soek nie aandag nie; daarom het Suid-Afrika se speler van die jaar vir 2009 sy aankondiging op die Bulle se webtuiste gedoen: Hy verruil die Bulle en Suid-Afrika na aanstaande jaar se Super15-seisoen en vertrek Japan toe na die Wêreldbeker. Hy oorweeg nog vir watter klub hy sal speel.

“Ek dink ek kan baie leer en terselfdertyd my horisonne verbreed. Dit sal my help as ek later in my lewe ’n loopbaan in afrigting kies,” sê hy.

Hy is immers nie ’n man wat ooit ’n ander Suid-Afrikaanse unie sou oorweeg nie. Nie nadat hy die Bulle in twee Super14’s en drie Curriebekers help seë-vier het nie. “Dit was die beste rugbyjare van my lewe en ek sou nooit vir ’n ander unie kon speel nie,” het hy op die webtuiste geskryf.

En oral in Pretoria het fris mans voor hul rekenaars in hul drankies gestik.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 15 April 2010