Aanhangers was vol hoop dat die Bulle Saterdagoggend in Nieu-Seeland met die Blues sal afreken, maar moes met nog 'n nederlaag tevrede wees toe die Bulle 14-38 geklop is.

Nadat Huisgenoot op Facebook gevra het wat lesers gedink het van die span se vertoning op die veld, is daar heelwat raad gedeel oor hoe die span hul spel kan verbeter.

"Hou op om die ander unies se sterspelers te koop. Ontwikkel jou eie talent," het Ryno Griesel gesê. "Belê in jou jeug en ontwikkel hulle. Dit gaan vir 'n seisoen of twee swaar gaan, maar daarna wen jy bekers met jou eie spelers," het hy bygevoeg.

Griffel Kruger het opgemerk "Europese klubs doen nou inkopies by Loftus nes die Bulle inkopies by die Cheetahs gedoen het.

"Nes die Bulle nou 'n goeie speler aankoop, is hy binne twee maande 'n Franse of Engelse klubspeler."

"Die bulle is onfiks en onbeholpe," het Ferdi Ferreira ook gesê, met Neels van Zyl wat bygevoeg het die span "lê te veel in die gimnasium.

"Oefen meer om 'n bal te vang en uit te gee en bekommer jou minder oor die bou van jou liggaam."

Ook die Cheetahs se ondersteuners moes Saterdagmiddag 'n nederlaag verduur toe die Haaie hulle met 38-30 in Bloemfontein getroef het.

Die Haaie se Curwin Bosch is as die Speler van die Wedstryd aangewys.