Amy is in 2011 weens alkoholvergiftiging dood en Alex sê haar stryd teen die eetsteuring, waar die persoon hulle ooreet en dan opbring, het bygedra daartoe dat sy op net 27 oorlede is.

“Sy het aan bulimie gely,” het hy aan die tydskrif The Observer gesê. “Dis nie ’n groot onthulling nie – jy het geweet deur bloot na haar te kyk. Met hoe sy aangegaan het, sou sy wel op die ou end gesterf het, maar dis die bulimie wat eintlik haar dood veroorsaak het. Dis absoluut afgryslik. Ek dink dit het haar swakker en vatbaarder gemaak. As sy nie ’n eetsteuring gehad het nie, sy sou fisiek sterker gewees het.”

Alex het vertel die Rehab-sangeres het op 17 bulimie ontwikkel en met ’n groep meisies begin uithang wat ’n slegte invloed op haar was. “Hulle het dit almal gedoen. Hulle het ryk souse op hul kos gegooi, dit geëet en dan opgebring,” vertel hy.

“Hulle het opgehou daarmee, maar Amy het nie. Ons het almal geweet sy doen dit, maar dis amper onmoontlik om so iets te takel, veral as jy nie daaroor praat nie. Dis ’n baie donker probleem.”