Wanneer die skoolklok smiddae gelui het vir die 10-jarige Emma McNab van Kampsbaai, was die leerwerk voorlopig verby. Dan het die ander helfte van haar lewe begin: akrobatiese Pilates, moderne dans, netbal, swem, koorsang, perdry. Sy is in gr. 4 in die Laerskool Jan van Riebeeck in Tuine, Kaapstad, en natuurlik is daar huiswerk ook. Dit is wat haar ma op ’n dag laat besluit het: tot hiertoe en nie verder nie.

“Ek het haar so min gesien!” sê Lize, ’n Pilates-instruktrise. Toe gaan sit sy en Emma, gesels en besluit: Alles is lekker, maar die perdry moet waai.

“Sy geniet al die aktiwiteite ongelooflik baie,” sê haar ma. “Die netbal en Pilates is goed vir haar liggaamlike ontwikkeling en al die aktiwiteite kry haar aandag weg van haar skoolwerk, maar sy moes kies.”

Emma skryf van vanjaar af eksamen, die skooldag word ál langer en die akademiese druk groter, voel Lize. Daarom was dit tyd vir ingryp. “Deesdae hou ons een middag per week heeltemal oop vir haar sodat sy by ’n maatjie kan gaan speel of ons saam iets lekkers kan doen.”

Ál meer ouers worstel deesdae met ’n soortgelyke vraag: Hoeveel buitemuurse bedrywighede is goed vir my kind en wanneer raak dit een te veel? Ons het by kenners gaan kers opsteek.

Pasop vir te veel

Ouers moet soms terugtree en nadink oor waarmee hul kinders alles besig is, sê Jodi Lord, ’n Kaapstadse spesialis in spelterapie.

“Vra jou af: ‘Hoeveel hiervan is wat my kind wil doen en hoeveel wil ek hê moet sy doen?’ Want dit gaan so dikwels oor ouers se eie agendas; dit klink so goed om te sê: Mý kind doen dit, dat én die ander.”

Of jou kind dit geniet, moet die deurslag gee. Praat voortdurend met haar en maak seker dis nog lekker.

“Dit moet pret wees; dis nie ’n werk nie. Sê vir haar: ‘As jy dit nie geniet nie, kan ons dit verander.’ ”

Die grootste probleem met ’n oorvol program, sê Tessa Burnard, ’n Johannesburgse sielkundige, is dat kinders min tyd oorhet om sommer net te speel. “Dit is gevaarlik om te veel struktuur en te min vrye speeltyd te hê, want dié tyd is baie belangrik vir ’n kind se emosionele ontwikkeling.”

Dit geld ook vir tieners. “Dis nie genoeg om jou vriende by aktiwiteite te sien nie; ’n mens moet ook soms net kuier!”

Elke kind reageer anders wanneer sy oorlaai voel, verduidelik Tessa, “maar dit is ’n rooi vlaggie wanneer hulle gereeld moeg is. As hulle meer sukkel om wakker te word en vroeër aan die slaap raak as gewoonlik of te moeg is vir huiswerk, is dit dalk tyd om iewers af te skaal.”

Hou ook dop of hul skoolwerk onder aktiwiteite ly. Kyk of hul punte verander. Dit is ook die boodskap van die departement van basiese onderwys. Hulle steun die holistiese ontwikkeling van leerders, maar nie ten koste van hul skoolwerk nie, sê Panyaza Lesufi, ’n woordvoerder. Daarom moet ouers daarop bedag wees dat buitemuurse programme onderrig aanvul en nie verhinder nie.

En as jy dan besluit jou kind moet afskaal, is dit baie belangrik om haar daarin te ken, sê Jodi. “Vra: ‘Wat kan ons wegvat sodat daar ’n beter balans in jou lewe is?’ ”

Maak soos Lize: Gesels met jou kind oor haar gunsteling-aktiwiteite en besluit saam wat met vrug gelos kan word. Jong mense is deesdae tot veel meer in staat as vroeëre geslagte, sê Pieter Bredenkamp, die skoolhoof van die Laerskool Menlopark in Pretoria. Maar elke kind is uniek; juis daarom moet ouers leiding gee.

“Hulle ken hul kind die beste en moet oordeel wat die kind kan hanteer of nie.”

Ouers moet ook besef dat al die kinders in ’n gesin nie noodwendig dieselfde vermoëns het nie. “Een kan dalk die druk beter hanteer en ’n verskeidenheid dinge aanpak; ’n ander moet dalk met die ouers se hulp een sportsoort kies en daarop fokus.”

En dan behoort ouers van veral laerskoolleerders te onthou dit gaan nie oor prestasie nie, maar oor die ontwikkeling van uiteenlopende vaardighede.

Deel van die ontwikkeling

Maar die kenners is dit eens: Buitemuurse aktiwiteite is noodsaaklik as deel van die kind se ontwikkeling. “Elke aktiwiteit kweek verskillende vaardighede by ’n kind en dit is belangrik vir kognitiewe, sosiale en emosionele ontwikkeling,” sê Tessa.

Ook vir ouer kinders is dit belangrik. “Wanneer die druk van skoolwerk en eksamen toeneem, is buitemuurse aktiwiteite goed vir ontspanning en meer energie.”

’n Kind moet by verskillende bedrywighede betrokke wees om tot ’n gebalanseerde volwassene te ontwikkel, sê Pieter. “Balans is die wagwoord: tussen span- en individuele deelname en tussen deelname en die wenmotief. Een behoort nie meer as die ander beklemtoon te word nie.” Hierdie aktiwiteite maak die kind se program voller, maar dit is deel van die leerproses.

“Kinders moet leer inspanning is nodig vir sukses. Dis ’n belangrike les. Hulle kan ook druk leer verwerk, iets wat hulle later in die arbeidsmark baie sal help.”

“By die Hoërskool Bellville is daar ’n sêding: ’n Betrokke kind is ’n gelukkige kind,” vertel Nelmari Kemp, ’n onderwyseres. “Deur aan aktiwiteite deel te neem leer kinders nie net hul middae konstruktief benut nie, maar ook hul prioriteite bepaal en beplan.”

Ook is die sosiale verkeer en die gevoel dat jy deel is van ’n klub of span, van onskatbare waarde, sê sy. In so ’n groep meng kinders met ander persoonlikheidstipes, wat hulle dalk nie as maats sou kies op die speelterrein nie. Ouers moet daarteen waak dat hul vooropgestelde idees nie met hul kinders se keuses inmeng nie.

“Debat is byvoorbeeld nie iets vir ‘slim kinders’ nie; dis vir elkeen wat tuis hou van terugpraat. En net omdat ma of pa vals sing, beteken dit nie die kind kan nie musikaal wees nie.”

My kind wil aan niks deelneem nie

Die waarde van buitemuurse deelname is so groot, ’n ouer moet ’n onwillige kind motiveer indien nodig, sê Jodi.

“Speel die rol van advokaat. Wys op die voordele, want kinders sukkel soms om dit self raak te sien. Jy kan byvoorbeeld sê: As jy skaak speel, gaan jy nuwe maats maak, jou kennis van skaak verbreed en meer tyd saam met daardie onderwyser deurbring.”

Verkoop dit eerlik en stel ’n proeftydperk voor, byvoorbeeld ses maande, sê sy.

Tessa stem saam. “Kinders is dikwels net skaam of bang. Hulle geniet dit dalk nie die eerste keer nie, maar as hulle vasbyt, kan hulle in baie gevalle later skaars genoeg kry.”

Dit is ook baie belangrik om jou kind te ken. “As jou kind inkennig is, stel iets soos tennis voor pleks van ’n spansport soos netball of rugby.”

Dalk moet jy ’n reël maak dat jou kind aan minstens een sport of buitemuurse aktiwiteit moet deelneem. Maar laat haar kies watter een.

As jou tiener traag is om deel te neem, wys daarop dat balans tel wanneer hulle aansoek doen om universiteitstoelating of selfs werk, sê sy. “Ja, die akademiese prestasies is belangrik, maar dit is tot jou voordeel as jy meer het om te wys.”

Baie ouers onderskat die beheer wat hulle oor hul hoërskoolkind se lewe moet uitoefen.

“Jy bly die ouer; jy moet hulle steeds lei. Selfs tieners weet nie altyd wat die beste

vir hulle is nie.”

Nelmari stem saam. “Ek ervaar dat meisies meer geneig is om self ’n aktiwiteit te kies. Ouers kan dalk ’n bietjie meer leiding aan tienerseuns gee.”

- Suzaan Hauman