Marc Rodgers, Plettenbergbaai se NSRI-stasiebevelvoerder, het gesê ’n reddingspan is uitgestuur nadat hulle in kennis gestel is van ’n verdrinking wat besig is om te gebeur.

“Die man (60) van Londen, Engeland, is deur twee omstanders en die lewensredder uit die water gered. Hulle het na die man geswem toe hulle besef hy is in ’n sleurstroom vasgevang en dat hy die see ingetrek word,” het Marc gesê.

Hulle het daarin geslaag om hom weer tot op die strand te bring. ’n Dokter was toevallig ook in daardie stadium daar en hy het noodhulp op die man toegepas tot waar die NSRI-span met een van hul dokters opgedaag het.

Ook teenwoordig op die toneel was die polisie en Med-Life-ambulansdienste.

“Die man is per ambulans na die hospitaal geneem. Ongelukkig, na alles wat moontlik gedoen kon word om sy lewe te red, is hy dood verklaar.”

Die man het alleen gereis maar die Britse konsulaat staan sy familie by.

Bron: nsri.org.za