HIER in die skadu van die berg vertel die Habanas jou gou: Hulle ken ook nou van die Kaapse dokter, en van die Kapenaars met hul aansteeklike sin vir humor kan jy hulle niks meer vertel nie.

Die Bok-held Bryan Habana en vroulief Janine is nog nie ’n jaar hier by die see nie, maar hulle is reeds deurwinterde Kapenaars, vertel die spoedvraat wat die Blou Bulle einde verlede jaar verlaat het om vir twee jaar vir die Westelike Provinsie en die Stormers te kom uitdraf.

Dis ’n lekker lewe: Op 27 jaar bly hy in ’n luukse huis met die vrou van sy drome aan sy sy. Dis nog net die pienkvoete wat kort om die prentjie af te rond. Maar gee eers net kans, laat Bryan gou hoor, dat hy en Janine (28) mekaar darem nog ’n jaar of twee kan geniet.

Die twee het vir ’n paar dae hier in die luukse presidensiële suite van die One & Only-hotel in Kaapstad kom uitspan. Buite steek die wintersonnetjie net-net sy kop uit oor Tafelberg, en hulle kan nie uitgepraat raak oor hul ruim nuwe vyfslaapkamerhuis op ’n spoglandgoed in Plattekloof noord van Kaapstad nie.

Maar hulle kan nog nie hul nessie vir Huisgenoot-lesers wys nie, maak hulle verskoning. Bryan lag. ‘‘Dit is so te sê nog net ’n leë dop! Ons moet nog baie meubels kry.’’ Nou geniet hulle maar Sol Kerzner se praalhotel terwyl daar by hul huis gewerskaf word.

Dit was so amper of hul droomhuis het deur hul vingers geglip, vertel Bryan. Hulle wou aanvanklik in die suidelike voorstede bly en het nie eens geweet Plattekloof bestaan nie, tot ’n vriend van Janine hulle van dié spogbuurt vertel het.

Met die intrapslag het die moderne duppelverdiepinghuis met sy verruklike uitsig oor Tafelberg en die see in hul hart gekruip. En dit was natuurlik ’n bonus dat dit naby Bellville is, waar die WP-span oefen.

Wanneer jy buite in die swembad of jacuzzi sit, kyk jy uit op die berg en Robbeneiland, spog Janine terwyl Bryan sy selfoon uitpluk om foto’s te wys. Sy Stormers-spanmaat Jaque Fourie bly net drie huise van hulle af en die krieketheld JP Duminy woon ook op die landgoed.

‘‘Toe ons die huis sien, was dit soos wow, dis ons droomhuis vir eendag, maar kom ons soek eers iets kleiner,’’ sê Janine. Maar hy móés toe net dié spoghuis besit, voeg Bryan by.

Janine se huishulp in Johannesburg, Joyce Matanhire, het toe verlede maand ook Kaap toe gekom om te help huishou. As die kleinding oor ’n jaar of twee eers daar is, sal Joyce ook dié versorg, laat val Bryan, en hy streel liefderik oor Janine se hand...

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 26 Augustus 2010