Eindelik! Vir die heel eerste keer – ná 10 probeerslae in die afgelope vyf jaar – het die Cheetahs ’n Superrugby-wed­stryd in Australië gewen. Dit nogal sonder die beseerde Juan Smith, gewoonlik ’n spilpuntspeler.

Die x-faktor in die loesing wat die Waratahs op eie bodem gekry het, was die baljagterHeinrich Brüssow (24).

Hy was pas terug ná ’n besering wat hom ’n jaar lank uit die span gehou het, en hy’t gespeel soos ’n ou wat verheug is om terug te wees.

Die Waratahs dog hulle is voorbereid op sy terugkeer, maar hulle dog verkeerd – so begeesterd het Heinrich gespeel dat hy die hele span meegevoer het.

Verlede Maart het Heinrich opeens in ’n wedstryd teen die Hurricanes ineengekrimp en sy linkerknie vasgegryp. ’n Lang litteken aan die binnekant van sy linkerbeen is sy aandenking aan die aaklige jaar wat gevolg het.

’n Operasie is uitgevoer om sy beseerde voorste kruisligament te herstel, maar ’n kleiner litteken op sy knie vertel die verhaal van wat toe gebeur het – hy’t te vinnig aktief geraak, en ’n tweede operasie was nodig om die skade te herstel.

Rugby is in sy bloed, en verlede jaar was toe die moeilikste van sy loopbaan. ‘‘Ek weet beserings is deel van rugby, maar die rehabilitasietyd was vervelig en dit voel nou baie goed om weer te speel,’’ verseker hy ons.

Ons het vroeër dié maand in Bloemfontein by Heinrich gaan kuier voor hy weer by sy spanmaats aangesluit het. Hy was pas terug van ’n oefensessie, en binne 10 minute het hy gestort, geskeer en homself glimlaggend op ’n leerbank kom tuis maak.

Die vorige keer toe ons met hom gepraat het, het hy pas die Springbokspan gehaal. Toe was hy skaam en onseker (G’n Bok vir ’n ophef, 6 November 2008); nou is hy vol selfvertroue en gemaklik met die aandag.

Pap spiere is in die gim hard gemaak terwyl hy van die besering herstel het. Die vervelige herhaalde oefeninge was ’n beproewing, al het dit sy linkerbeen se krag opgebou. Hy was slaggereed om weer by die ruwe wêreld van Superrugby in te val.

‘‘Ek het langs die veld gedraf en gekyk hoe die ouens oefen,’’ vertel hy. “Ek kon hulle hoor skerts en beplan, spangees bou. Ek wou graag weer deel daarvan wees. Ek kon nie wag om weer ouens te begin duik nie.’’

Heinrich is ná die eerste operasie gewaarsku dat hy sy been minstens ses weke moet laat rus. Pleks daarvan het hy amper dadelik sy knie begin beweeg. Die ligament het nie genees nie en moes in ’n tweede operasie herstel word.

Skade aan die voorste kruis-ligament is die algemeenste rugbybesering van almal, maar deesdae is chirurge met beter kennis toegerus om dit te kan behandel en het spanne meer gesofistikeerde afrigtingspersoneel. Die operasie is dus nie meer die outomatiese doodsvonnis vir ’n loopbaan wat dit eens was nie.

Dr. Johan Kruger, wat die operasie op hom uitgevoer het, sê chirurge sou hulle nooit kon indink hoeveel vordering gemaak is met nuwe tegnieke nie. Toe hulle in 1993 op Os du Randt geopereer het, kon hulle hom nog twee seisoene gee. Maar Heinrich, voorspel hy, behoort vir nog ses seisoene te kan speel.

Lees die volledige onderhoud met Heinrich in Huisgenoot, 31 Maart 2011.