Volgens berigte het minstens 15 mense in hierdie aanval gesterf.

Minstens 13 mense is na wat berig word vroeër die dag by die internasionale lughawe in bomaanvalle dood.

Die Islamitiese Staat (IS) het glo verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar. Die terreurgroep se Salah Abdeslam (die hoofverdagte in die terreur-aanvalle in Parys in November) is vier dae gelede in ‘n woonstel in Brussels in hegtenis geneem. Die treinstasie is naby die kantore van die Europese Unie geleë. Die parlement se deure word met metaalhortjies bedek en soldate en veiligheidsbeamptes is voor die gebou teenwoordig. Talle het hul hartseer, simpatie en ook misnoë oor die aanvalle op Twitter uitgespreek. Ander bied weer hulp aan diegene wat in die stad gestrand is nadat alle openbare vervoermiddele tot stilstand gebring is. Geen busse of treine is nou in werking nie.

Facebook het ook, soos destyds met die aanvalle in Parys, ’n fasiliteit beskikbaar gestel waar vriende en familie met hul geliefdes kontak kan maak om uit te Ovind of hul veilig is en waar hulle hul bevind. Die Belgiese koning se staatsaanklaer het die aanvalle aan die nasionale uitsaaier as selfdoodaanvalle bestempel. Twee mense is by die Brusselse stasie in hegtenis geneem. Dit is nog onduidelik of dié arrestasies enigsins met die ontploffings verband hou. België het intusen alle grense met Frankryk gesluit. Strenger veiligheidsmaatreëls is ook intussen by Heathrow-lughawe ingestel.

Vroeër vandag: Ontploffings ruk Brussels-lughawe: Talle beseer, honderde vasgekeer