Media in die Belgiese hoofstad sê dié man, wat in die suidwestelike voorstad Anderlecth vasgetrek is, is Najim Laachraoui.

Hy verskyn saam met die twee selfmoordbomaanvallers wat luidens berigte die broers Khalid en Brahim el-Bakraoui is, op kringtelevisiebeelde van die Zaventem-lughawe.

Daarin kan drie mans gesien word wat trollies stoot met vermoedelik bomme daarop: twee in donker klere en elk met net een swart handskoen aan die linkerhand (moontlik om bom-ontstekers weg te steek).

Khalid en Brahim is vermoedelik in die ontploffings op die lughawe dood. Net regs van hulle het ’n derde man sonder ’n handskoen en met ligte klere en ’n hoedjie ook ’n trollie gestoot. Dit was blykbaar Najim. Lees ook: Brussel-bloedbad: ‘Ek het foto’s geneem, ek het nie geweet hoe om die mense te help nie’ ’n Bom wat nie ontplof het nie is op die lughawe gevind en daar is gesien hoe ’n man kort ná die ontploffings van die lughawe-terminaal laat spaander. Die El-Bakraoui-broers was reeds aan die polisie bekend en het misdaadrekords gehad. Khalid het ’n woonstel onder ’n vals identiteit in Brussel se woudgebied gehuur. Dis ook daar waar ’n gewapende man verlede week in ’n klopjag geskiet is, waarna ’n vlag van die Islamitiese Staat (IS), ontstekers en die vingerafdruk van ’n hoofverdagte in die Parys-terreur, Salah Abdeslam, gevind is. Salah is drie dae later vasgetrek.

Buiten sy misdaadrekord word Khalid volgens die Belgiese koerant La Derniere Heure reeds weens terroristebedrywighede gesoek.

En die polisie het Najim vroeër vandeesweek as ’n trawant van Salah uitgewys.

Lees ook: Ontploffings ruk Brussels-lughawe: Talle beseer, honderde vasgekeer

Brussel-polisie het nog ’n bom, chemikalieë vir bomme en ’n Islam-vlag in die noordelike buurt Schaerbeek gevind. Hulle het gereageer op ’n wenk van ’n taxi-bestuurder wat meen hy het moontlik die bomaanvallers na die lughawe aangery, het plaaslike media berig.

IS, wat aanspreeklikheid vir die terreur aanvaar het, het gedreig meer aanvalle gaan volg.

“Swart dae” lê voor vir dié wat in Sirië en Irak veg, het die internasionale terroristegroep gewaarsku.

Terwyl Belgiese vegvliegtuie by die koalisie teen IS in die Midde-Ooste aangesluit het, is Brussel ironies al lank ’n groot broeiplek van Islam-militantes.

Sowat 300 Belgiese inwoners het al na raming saam met Islam-ekstremiste in Sirië geveg. België, met sy bevolking van 11 miljoen en wie se veiligheidsmaatreëls en intelligensievermoë skerp kritiek verduur het, is al as Europa se voorste uitvoerder van buitelandse vegters in die Midde-Ooste bestempel.

Wat is tot dusver oor Najim bekend?

? IS se vermeende ‘meester-bommaker’ het vermoedelik die bomme in die Brussel-aanvalle gemaak;

? Maar hy word ook daarvan verdink dat hy van die bomme in die Parys-slagting gemaak het nadat sy DNS op selfmoordbom-gordels in die Bataclan-teater en die Stade de France gevind is;

? Hy het die valse naam Soufiane Kayal gebruik om ’n huis te huur wat die Parys-bomaanvallers gebruik het om hul wandade te beplan. Sy DNS is ook in dié huis opgespoor.

Bronne: Reuters, BBC, AFP, RTBF, Independent

– Saamgestel deur Richard van Rensburg

Ander stories op Huisgenoot.com:

‘Boeremeisie’ Minki van der Westhuizen kry Britse burgerskap

Vrou praat oor Brussel-bloedbad: ‘Ek het foto’s geneem, ek’t nie geweet hoe om mense te help nie’

Fotograaf praat oor die oomblik toe leeus sy GoPro-kamera steel en selfies begin neem!

Suid-Afrika ‘nie immuun teen terreur’

Kyk: Elfjarige rakker se pretrit eindig agter tralies

Kyk: Jack Parow se dogter kappit yt op pa se musiek