Die bruidegom het egter heel laaste daarvan uitgevind – en dit net enkele minute voor sy troue!

Quenton (42) en Chrizelle (29) Roberts van Standerton in Mpumalanga is op Saterdag 11 Februarie voor vriende en familie weer in die huwelik bevestig. Quenton het egter eers ná sy aankoms by die trouvenue gehoor hy is die bruidegom.

Quenton en Chrizelle het mekaar in 2005 in Londen deur haar broer, Pierre Louw, ontmoet.

“Quenton en Pierre het saam gewerk op die Londense Underground (die moltreinstelsel),” sê Chrizelle.

Kort voor lank was sy en Quenton ’n paartjie, maar twee jaar later het haar visum verval. Die studentevisum waarvoor sy aansoek gedoen het, is afgekeur.

’n Beplande vakansie in Suid-Afrika was klaar gereël, maar dit sou beteken Chrizelle sou nie saam met Quenton kon terugkeer Londen toe nie.

Hulle het op Vrydag 9 Februarie 2007 in Suid-Afrika geland en ’n predikant het hulle die volgende dag by Chrizelle se ma se huis in Roodepoort getrou.

“Ons is op die ingewing van die oomblik getroud,” vertel Chrizelle.

Die egpaar is terug Engeland toe en het vier jaar daar gewoon. Hul twee kinders, Daniël (9) en Melinda (7), daar gebore.

[caption id="attachment_159062" align="aligncenter" width="600"]Foto: Cornel du Toit van WhyPink Creations. Foto: Cornel du Toit van WhyPink Creations.[/caption]

In 2011 het die gesin permanent teruggekeer Suid-Afrika toe. “Ons wou altyd ’n behoorlike troue reël, maar finansieel was daar iets belangrikers.”

Toe Chrizelle, ’n naeltegnikus, verlede jaar met ’n kliënt gesels oor dié se troue, het sy besef hoe maklik dit eintlik is om een te reël.

Sy het alles beplan en op die groot dag, ’n dag ná hul huweliksherdenking, het Quenton gedink hulle gaan na die troue van een van Chrizelle se kliënte.

Hy was onder die indruk Chrizelle werk die oggend en toe hy om 14:30 by Waterfront Lodge opdaag, het hy die eerste keer gehoor hy trou.

[caption id="attachment_159066" align="aligncenter" width="600"]Foto: Cornel du Toit van WhyPink Creations. Foto: Cornel du Toit van WhyPink Creations.[/caption]

Hy was oorstelp en het aanmekaar gesê hy kan dit nie glo nie. Hy kon nie uitgepraat raak oor hoe mooi sy vrou lyk nie.

Chrizelle sê alles het “goed gegaan” met die emosies, maar toe Daniël en Melinda voor haar kansel toe stap, was Quenton in trane.

Nog ’n verrassing het op Quenton gewag: Verlede September het sy skoonpa, Chris Louw (58), in die gras die trouring opgetel wat Quenton vyf jaar gelede op sy plaas verloor het.

[caption id="attachment_159065" align="aligncenter" width="600"]Foto: Cornel du Toit van WhyPink Creations. Foto: Cornel du Toit van WhyPink Creations.[/caption]

Hulle het die vonds tot die dag van die troue vir Quenton en Chrizelle geheim gehou. Haar stiefma, Alice (58), het die ring intussen laat skoonmaak.

Die oggend voor die troue het Chris vir sy dogter gesê hy het iets vir die trougebruik “something old, something new, something borrowed and something blue”.

Chrizelle en Quenton was ewe oorstelp. “Dit was uit en uit so bestem,” sê sy.

[caption id="attachment_159061" align="aligncenter" width="600"]Foto: Cornel du Toit van WhyPink Creations. Foto: Cornel du Toit van WhyPink Creations.[/caption]