Ons het jou raad gegee oor jou droom-trourok, maar nou is dit die bruidegomme se beurt met hul troupak.

Dit help nie jy gaan soos ’n prinses lyk en hy lyk of hy by die verkeerde troue opgedaag het nie. Kyk maar na Kurt Darren, Emo Adams en Duane Vermeulen se troupakke wat ek al gemaak het – dit pas perfek by die bruid se rok en tema.

[caption id="attachment_172284" align="alignnone" width="600"]Duane Vermeulen wys sy pasgemaakte Diaan Daniels-troupak af vir die kameras met sy naam en troudatum wat aan die binnekant geborduur is. Foto: Charl Smith Duane Vermeulen wys sy pasgemaakte Diaan Daniels-troupak af vir die kameras met sy naam en troudatum wat aan die binnekant geborduur is. Foto: Charl Smith[/caption]

Die meeste mans dink daar is nie opsies vir hulle nie en los die troupak vir heel laaste. Daar is niks mooier as ’n bruidegom wie se troupak hom soos ’n handskoen pas nie.

  • Pasgemaakte (“tailored”) pakke is die beste opsie om te oorweeg. Dit kan verskeie voordele hê as dit reg gemaak word deur ’n professionele snyer en ontwerper. Kies jou snyer versigtig – dit is nie ’n rok waar jy foute met krale kan verbloem nie. Pakmakery is ’n kuns op sy eie.
  • Die voordele van ’n gemaakte troupak is dat jy jou eie materiaal kan kies en so ook die styl wat die beste by jou troudag en bruid gaan pas.
  • Kies die materiaal versigtig sodat jy die pak weer na jou troudag kan gebruik, soos na ’n werkfunksie of saam met jeans.
  • Daar is verskillende style waarvan jy nooit geweet het nie. Daar is allerhande sakke, krae en snitte waarvan jy kan kies. Jy kan selfs ’n spesiale voering in ’n helder kleur met jou en jou bruid se naam binne-in borduur.
  • As jy baie lank of kort is of ’n boepie het en niks in die winkel kry wat pas nie, moet jy hierdie geleentheid as ’n belegging sien. Die bruid kan dalk nie weer haar trourok dra nie, maar jy kan beslis weer jou pak gebruik.
  • Mans moenie bang wees om te eksperimenteer nie. Kies jou baadjie in ’n kontraskleur as jou broek, byvoorbeeld ’n grys baadjie by ’n swart broek.
  • Die meeste bruidegomme dink onmiddellik aan ’n swart pak (dit kan natuurlik werk as jy ’n tuxedo wil dra soos 007 en baie formeel wil wees), maar kleure soos helder vlootblou, lig- en donkergrys en selfs bruin kan goeie opsies wees. Neem jou bruid saam na konsultasies voor jy ’n besluit neem.
  • Jou hemp is ook belangrik, veral as jou bruid se rok nie spierwit is nie. As haar rok naaswit is, moet jy ’n soortgelyke kleur kies sodat jou spierwit hemp nie haar rok vuil laat lyk nie.
  • ’n Onderbaadjie kan stylvol lyk as deel van ’n driestukpak, maar jy moet seker maak die onderbaadjie het ’n laer neklyn en steek net-net uit onder die baadjie. Dit kan dieselfde materiaal wees as jou pak. Oor die algemeen moet jy wegbly van blink onderbaadjies wat lyk of jy dit by die China Mall gekoop het. Die onderbaadjie help ook om jou hemp mooi in posisie te hou as jy later die aand jou baadjie uittrek en begin dans.
  • Ouens kies die nuwer snitte van manspakke wat meer getailleer is al koop jy jou pak van die rak af. Dit is nie meer die 90’s nie en ’n drieknoopbaadjie en broek met omslagpype moes nooit in die mode gewees het. Hou by ’n een- of tweeknoop met ’n getailleerde broek sonder plooie voor en sonder omslagpype.
  • Al is dit hoogmode, bly weg van ’n dubbelborsbaadjie, want dit laat jou middellyf groter lyk. As jy nie skraal is nie, is hierdie nie ’n opsie vir jou nie.

    Bruide, maak seker jy is betrokke by hierdie besluit en ek weet jy dink: “My verloofde is ’n boer, hy sal nooit na ’n ontwerper toe gaan nie.” Jy kan dalk net verras word, want baie mans wil nie na ’n ontwerper gaan tot jy hom dwing en dan kies daardie boer die mooiste lap tot die bruid se verbasing!

    Die rede is hy het meer opsies as wat in die winkel beskikbaar is en dit word spesiaal om sy plaasboer-middel gemaak vir die perfekte snit. Elke man wil die prins op die wit perd wees vir sy bruid.

    Van asemrowende trourokke tot manspakke, tot volgende week!

    – DD

  • Skakel elke Woensdag om 17:30 in vir nuwe episodes van My droom-trourok op VIA (DStv-kanaal 147) en Sondae om 15:30 vir die heruitsendings.