Ja, dit kan stresvol wees om ’n troue te beplan, wat dit half verskoonbaar maak om soms soos ’n geitjie op te tree.

[caption id="attachment_163943" align="alignnone" width="601"]Foto: Scott Web, Unsplash Foto: Scott Web, Unsplash[/caption]

Maar om ’n ongebore baba by jou groot dag te verbied omdat jy bekommerd is die kleinding steel dalk jou kollig, is ’n bietjie dik vir ’n daalder . . .

Maar dit is presies wat ’n onbekende bruid oorweeg het om te doen. Sy het onlangs op Mumsnet, ’n aanlyn besprekingsforum waar raad oor ouerskap en ander onderwerpe uitgeruil word, die gebruikers se mening gevra oor haar 16-jarige strooimeisie wat onlangs uitgevind het sy verwag.

En, nee, sy was nie ontsteld omdat sy vir ekstra materiaal sou moes opdok om die strooimeisie – ook haar toekomstige skoonsuster – se groeiende babamagie te bedek nie . . . Dit was die gedagte dat ’n vier maande oue kleintjie moontlik die troue gaan bywoon wat die bruid so omgekrap het.

“Daar’s baie gemengde gevoelens in die familie oor die swangerskap,” het die toekomstige bruid gesê in ’n plasing wat sedertdien uitgevee is, berig The Mirror.

“Sy het die baba sonder haar kêrel of enigiemand anders se medewete beplan, dus is sy bly daaroor, al is niemand anders nie.

“In elk geval, is ek onredelik om te dink ek kan haar nou regtig nie as ’n strooimeisie hê nie?”

Dalk het sy besef hoe gemeen sy klink, want sy het toe haar oorspronklike grief probeer motiveer.

“Sy gaan ’n vier maande oue baba hê om te versorg en dis regtig nie regverdig om te verwag my skoonpa en -ma moet kinderoppasser speel terwyl sy haar pligte as strooimeisie uitvoer nie.

“Dis hul seun se troue. Sy leef nog in ’n fantasiewêreld waar sy as enkelouer vir die kind sal kan sorg en steeds die lewe van ’n gewone tiener lei.”

Hoewel party gebruikers begrip vir haar dilemma gehad het, het dit gou gewyk toe sy die redes gee waarom sy die josie in is.

“My lewensmaat se uitgebreide familie sal die baba Kersfees sien en my troudag sal net die tweede keer wees dat enigiemand hom of haar sien.”

En dit laat die bruid voel die bondeltjie vreugde sal haar kollig steel: “Ek wil hê ons troudag moet oor óns gaan, nie oor haar nie.”

’n Gebruiker het hierop gereageer deur te sê sy het “alle simpatie verloor” toe die bruid beweer die kleintjie gaan die aandag steel. Haar raad aan die toekomstige mevrou? “Word groot.”

Eina.

Die toekomstige bruid het darem later gedeel geen uitnodigings na die troue sal teruggetrek word nie.

- Kim Abrahams

Bronne: MumsNet, The Mirror, The Sun