Dit klink na enige bruid se ergste nagmerrie!

Maar dis presies wat met Steph Grieves van Nottingham in Engeland gebeur het. Steph se geliefde, Billy, het hul troue beplan en raai wat hy as tema gekies het? Varke!

Billy het ongeveer R245 000 geblaas om hul troue op ’n varkplaas te hou. Hy’t boonop ook 50 varke gehuur, en dít om ’n Guinness-wêreldrekord op te stel.

Steph se strooimeisies, geklee in pienk varkiepakkies, het net so verwilderd soos die bruid gelyk toe hulle op die plaas opdaag. Die gevolg het nie geweet hulle gaan na 'n varkplaas nie.

En die bruid was glad nie ingenome nie. Sy’t rooi gesien!

“Ek wil nie varke op my troue hê nie. Al wat ek wil hê is vir dié dag om verby te gaan,” het Steph gal gebraak in ’n video wat Channel 4 op Facebook gedeel het.

Billy se plan om die wêreldrekord te herskryf was ook vergeefs. Sy plan om 50 varke in een rigting te laat hardloop, het lelik skeefgeloop toe die varke elk sy eie rigting ingeslaan het. Party het selfs in die modder gaan rol.

Tog hou die bruidegom vol hy’s die gelukkigste man op aarde.

“Ek het met die vrou van my drome getrou. Dis al wat saak maak.”

Wel, dis een ding om met die vrou van jou drome te trou, maar om dit te doen op ’n varkplaas met 50 varke en die mees oinkaangename reuke – nee, dis bietjie verregaande!

Kyk hier na Steph en Billy se varktroue:

Bronne: Daily Mail, ECR