’n Vrou wat ’n troue bygewoon het in Whittier, sowat 20 km van Los Angeles in Kalifornië, is dood nadat ’n reusagtige bloekomboom op ’n groep van die bruilofgaste omgeval het. Intussen het dit aan die lig gekom dat die vrou die ma van die bruid was. In dié video vertel ooggetuies van die skokkende oomblik en hoe omstanders nader gehardloop het om dié te help wat onder die boom vasgepen was.

Nog vyf mense is tydens die fratsongeluk beseer, onder wie ’n vierjarige meisie. Sy is in ’n kritieke toestand.
Die groep was besig om troufoto’s te neem toe bloekomboom, wat meer as 30 m hoog was, eensklaps ontwortel is en bo-op hulle beland.

A photo posted by luna llena (@rancholita) on

Die reddingspanne wat na die toneel ontbied is, wou nie nog besonderhede oor die slagoffer bekendmaak nie. Hulle het wel gesê die meeste mense is genadiglik nie deur die boom se hoofstam getref nie; hulle het skrape en kneusings opgedoen toe sytakke hulle tref.

Joe Vinatieri, Whittier se burgemeester, het aan die plaaslike koerant The Whittier Daily News gesê die gemeenskap is uiters geskok oor die voorval.
“Dit was veronderstel om een van die opwindendste dae van hul lewe te wees. Pleks daarvan het dit nou so afgeloop,” het Joe gesê.
Penn Park, waar die tragedie afgespeel het, is juis as gevolg van die aanskoulike en groot bome ’n gewilde bestemming vir troufoto’s.
In hierdie stadium is daar nog geen duidelikheid oor waarom die boom omgeslaan het nie. Swaar reën in die voorafgaande paar dae het moontlik ’n rol gespeel.

Jeff Collier, stadsbestuurder, het gesê die park sal gesluit bly tot die oorsaak van die fratsongeluk vasgestel kan word.

Bronne: whittierdailynews.com, washingtonpost.com, nbclosangeles.com