Sy het kanker oorwin, met die kerkpaadjie afgeloop en voor die kansel by haar man aangesluit.

Slegs enkele weke nadat sy haar wit kantrourok gekies het, was Emily McDermott verlam.

Hodgkinsiekte is in Desember verlede jaar by die 23-jarige gediagnoseer. Dit is ’n soort bloedkanker wat ’n mens se limfstelsel aantas.

Dié vrouesoldaat van Wrexham, Wallis, het dikwels erge rugpyn gekry, maar sy het dit toegeskryf aan ’n besering wat sy op ’n hindernisbaan van die weermag opgedoen het.

Die pyn het so ondraaglik geraak dat sy noodgedwonge by die ongevalleafdeling van die Salisbury-hospitaal aangemeld het. Die dokters het, nadat tallose toetse en skanderings op Emily uitgevoer is, verskeie yslike knoppe op haar ruggraat gevind.

Hulle het vir Emily gesê sy moet terugkom hospitaal toe om haar uitslae te kry, maar toe sy by die huis kom, het dit gevoel asof haar bene slaap. Die volgende oggend het dinge ’n ernstige wending geneem toe sy absoluut geen gevoel in haar bene gehad het nie.

“Ek het op die plek gevries,” vertel Emily. “Ek kon nie beweeg nie. Dit het gevoel asof my bene gesluit was.  Ek was vreesbevange en het alle selfbeheer verloor.”

Toe gee die dokters haar boonop die skokkende nuus: Die moontlikheid het bestaan dat sy nooit weer sou kon loop nie.

“Ek het die diagnose verwag en was verlig oor die feit dat daar iets aan gedoen kon word.  Ek was egter baie bang ek sou moontlik nooit weer kon loop nie.  Dit het ek nie verwag nie,” vertel sy.

Die dokters het die aanstaande bruid vir vyf radioterapie- en chemoterapiebehandelings gestuur en sy het kort daarna met fisioterapie begin ten einde weer terug te kom op haar voete.

“In die begin het my bene soos jellie gevoel as ek probeer het om te staan.  Eers as jy die vermoë om te loop verloor het, besef jy hoeveel dinge jy as vanselfsprekend beskou het,” sê Emily.

Haar verloofde, Olly Hughes, het die jawoord in Januarie 2016 gevra nadat hulle mekaar by die militêre basis ontmoet het waar albei gestasioneer was.

Haar ouers het haar probeer oorreed om die troue uit te stel aangesien die chemoterapie haar hare laat uitval het.

Maar Emily het geweier en besluit om vir haar ’n baie spesiale pruik te laat maak vir haar groot dag.

Op 29 Julie het Emily, ná ’n intensiewe fisioterapiesessie, met die kerkpaadjie afgestap.
 
“Terwyl ek gestap het, het ek op hom gefokus. Hy was my rots. Ek was só opgewonde om met hom te trou. Op daardie oomblik het ek van alle ander mense vergeet.”

Die jong getroude is sedert Junie vanjaar kankervry en gaan haar romantiese wittebrood in November in Thailand geniet. 

Bronne:dailymail.co.uk, walesonline.co.uk, mirror.co.uk