Min het die pragtige Angelique Arsenault van New Hampshire in Amerika geweet wat op haar troudag op haar sou wag.

Alles was reg vir haar groot dag – ’n pragtige trourok, liewe strooimeisies en ’n statige bruidsmotor. Sy het selfs beplan om, anders as talle ander bruide, betyds by die kerk op te daag.

Sy het immers 11 jaar gewag voor sy en Jarrod Dunning saam voor die kansel sou staan. Dit sou dus wonderlik wees as alles op hulle groot dag klopdisselboom sou verloop.

Maar die nare noodlot het giggelend hande saamgevryf en byna-byna ’n stokkie voor haar planne gesteek. Of sal ons liewer sê ’n stokkie in haar bruidsmotor se wiel gesteek?

Angelique en haar strooimeisies was slaggereed om die rit van haar huis na Milford aan te pak, maar kwalik op pad kerk toe het dinge begin skeefloop.

Die volgende vyf woorde was allesbehalwe wat die bruid wou hoor: “Julle het ’n pap wiel,” is hulle ewe koel en kalm deur die motorbestuurder ingelig.

Gelukkig was daar vonkelwyn byderhand wat die ellende help verlig het.

Maar wat nou? Dis nie so ver na die kerk nie, kwalik meer as 11 km, maar gedoriewaar: In hoëhakskoene en met ’n pragtige trourok was stap duidelik nie die oplossing nie.

Maar ’n bruid maak ’n plan – en daar kom die duim. Hoewel verskeie motoriste verbygery én glo foto’s van die vreemde petalje geneem het, was daar een man wat besef het die bruid verkeer in ’n dilemma.

Die samaritaan, net bekend as Jay, het met ’n motor vol kinders stilgehou en belowe hy sal terugkeer nadat hy die kinders tuis afgelaai het. So gesê, so gedaan. Kort voor lank was Angelique en haar strooimeisies knus in Jay se motor op pad kerk toe.

Haar bekommerde bruidegom moes baie verlig gewees het toe sy eindelik by die kerk opdaag, net ’n halfuur laat . . .