Bruce Jenner voel bevry nadat hy en Kris Jenner uitmekaar is.

Die Olimpiese gouemedaljewenner en sy vervreemde vrou het Dinsdag in ’n gesamentlike verklaring die beëindiging van hul huwelik van 22 jaar bevestig. Hy het glo die naweek aan verskeie mense by die Virginia International Raceway gesê hy is bly om weer ’n alleenloper te wees.

’n Bron het die webtuiste TMZ.com vertel Bruce (63) het gesê: “Ek is eindelik vry om te doen wat ek wil en om my lewe te leef soos ek wil.”

Bruce, ’n ster van Keeping Up with the Kardashians, was saam met sy seuns, Brandon en Brody Jenner, by die renbaan. Hy het met ’n Lamborghini gejaag en is daarna opgemerk waar hy met ’n klompie meisies flankeer.

Bruce en Kris is glo op goeie voet uitmekaar. Hulle beplan om hul dogters, Kendall (17) en Kylie (16), verder saam groot te maak.

Nog ’n bron het gesê die twee gaan nie skei nie, maar woon sedert Junie nie meer saam nie. Hulle het elkeen vier kinders uit ’n vorige huwelik. Kim Kardashian is een van hulle.

Hulle het in hul verslag gesê: “Ons leef nie meer saam nie, en ons is baie gelukkiger so. Maar ons sal altyd baie liefde en respek vir mekaar hê. Hoewel ons uitmekaar is, sal ons altyd beste vriende bly, en soos altyd sal ons familie ons prioriteit bly.”

Bruce het vroeër vanjaar uit hul huis in Calabasas, Kalifornië, na sy eie strandhuis in Malibu getrek. Hy het onlangs vertel hy voer al jare ’n stryd teen velkanker.