Dié plastieksakkies wat alledaags vir toebroodjies of in die vrieskas gebruik word, help jaarliks duisende vroeggebore babas se lewe red.

Een pediater, dr. Andrew Gallagher, het dit so aan die Britse Daily Mail verduidelik: “Die sakkie tree op as ’n mikro-omgewing. (Vroeggebore babas) is te klein vir ’n broeikas omdat dit ontwerp is vir volgroeide babas.”

Babas wat baie vroeg gebore is, het baie min liggaamsvet om hulle warm te hou en is dus besonder vatbaar vir hipotermie. Maar die plastieksakkie boots die omgewing binne die baarmoeder na en verminder dus die babas se risiko vir hipotermie.  Nadat die tegniek byvoorbeeld by die Liverpool-vrouehospitaal in Engeland gebruik is, het die toelatings van vroeggebore babas met hipotermie afgeneem van 19,4 tot 3,9 persent.

Dr. Bill Yoxall, die kliniese hoof van neonatologie by dié hospitaal, het gesê die sakkies help die babas se temperatuur stabiel hou: “Dit verhoed dat vog van die vel verdamp en skep ‘n groenhuis-effek om die baba warm te hou.”

Die merkwaardige tegniek is al in 1971 in Amerika beskryf, maar word sedert die laat 90’s algemener toegepas. Volgens die Daily Mail gebruik neo-natale eenhede deur die hele Verenigde Koninkryk nou die plastieksakkie-tegniek.

- Suzaan Hauman

Bronne: Dailymail.co.uk, smartbrief.com, au.lifestyle.yahoo.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.