“Ons het sowat 10 dae gelede bevestiging van meer as een bron ontvang dat Pierre Korkie lewend gesien is saam met ’n medegevangene,

’n VN-hulpverleningswerker van Sierre Leone,” het die organisasie se hoof, Imtiaz Sooliman, in ’n verklaring gesê.

“Hulle is van een streek na ’n ander vervoer.”

Tog het hy gesê die bronne kon nie kommentaar lewer oor Pierre se gesondheidstoestand nie.

Militante het Pierre en sy vrou, Yolande, in Mei verlede jaar in Taiz, Jemen, gevange geneem. Ten tye van die ontvoering was Pierre ’n onderwyser in Jemen terwyl sy vrou in hospitale hulp verleen het.

Yolande is op 10 Januarie vrygelaat en het op 13 Januarie na Suid-Afrika teruggekeer. Gift of the Givers het haar vrylating help onderhandel.

Die ontvoerders het sowat R32 miljoen geëis in ruil vir Pierre se veilige terugkeer.

Die stigting het deur die wêreldmedia met Al-Kaïda probeer kontak maak en ’n onderhoud rondgestuur met hul kantoorbestuurder in Jemen, Anas al-Hamati.

Anas was verplig om Jemen einde Januarie te verlaat vir sy eie veiligheid nadat Al-Kaïda hom daarvan beskuldig het dat hy die losprys gesteel het.

Stamleiers in Jemen het toe die gesprekke met Al-Kaïda oorgeneem.

Op 25 Februarie het stamleiers uitgevind Pierre lewe nog, maar sy gesondheid is swak. Sedertdien is geen inligting oor sy toestand beskikbaar nie.

Imtiaz het Donderdag gesê die organisasie is afhanklik van die welwillendheid van die stamleiers in die gebied.

“Die werklikheid is dat die geld vir die losprys net nie beskikbaar is nie. In ’n poging om internasionale steun te kry en met die hoop dat Al-Kaïda dit sou oorweeg om Pierre onvoorwaardelik vry te laat, het Yolande ’n tweede video uitgereik waarin sy om sy vrylating pleit, presies ’n jaar ná die ontvoering,” het hy gesê.

Yolande het die video Woensdag uitgereik.

“Met die koms van die maand van Ramadan, die maand van genade en vergifnis, vra ons julle om hom asseblief onvoorwaardelik vry te laat, soos julle my vrygelaat het,” sê sy in die video.

“Ek en my kinders verlang verskriklik na hom. Laat hom asseblief vry; ons sal so dankbaar wees daarvoor. Pierre het niemand leed aangedoen nie. Hy is ’n onskuldige man en ’n gerespekteerde onderwyser.”

In die video sê Yolande haar man is ernstig siek en kan sterf.

- Sapa