Dit het in 'n hof aan die lig gekom dat Levi Elliot net 15 jaar oud was toe hy in Maart 2012 vir Sierra, 12, in die kop geskiet het in die dorpie Bolivar in die Amerikaanse deelstaat Missouri .

Elliot het aanvanklik beweer dat 'n inbreker sy stiefsuster geskiet het, maar, terwyl ambulansmanne geveg het om haar lewe te red, het sy 'n eenvoudige handgebaar gemaak wat haar ouers 'n aanduiding gegee het oor wie haar werklik geskiet het.

Nadat Elliot vir Sierra in die kop geskiet het, het hy na 'n telefoonhokkie toe gery om sy ma te bel. Hy het haar vertel dat iemand sy stiefsuster geskiet het en daarna het hy Kansas City toe gery waar sy ma woon.

Intussen het sy pa, James, en sy stiefma, Peggy, tuisgekom, gevind dat hy weg is en dat Sierra sterwend in 'n plas bloed gelê het.

Toe hulle vra of haar stiefbroer verantwoordelik was vir die skietery, het sy haar regterhand bevestigend opgelig, het The Mirror berig.

Die tiener het hom later aan die polisie oorgegee, maar hy het volgehou met sy storie van die inbreker. Hy het beweer dat hy by die huis uitgejaag is en toe met 'n motor ontsnap het.

Die polisie het egter nie sy storie geglo nie en hy is aangekla van die moord op Sierra.

Hy het in Oktober verlede jaar as volwassene tereggestaan.

Sy eie vader het die regter gevra om hom die maksimum-vonnis op te lê, aangesien hy gevrees het dat sy seun weer sou kon moor.

Die verdediging het aangevoer dat Elliot se storie nie sin maak nie en dat hy die enigste een was wat 'n motief gehad het om Sierra te skiet.

Elliot het na bewering aan sy skoolmaats vertel dat hy sy stiefsuster haat. Trouens, hy het aan een van hulle gesê: “ek sal nie omgee as sy doodgaan nie.”

Hy is gevonnis tot altesame 30 jaar tronkstraf.

Bronne: News.com.au, The Mirror