Dis algemeen dat broers en susters reeds van kindsbeen af mekaar blameer wanneer iets skeefloop, selfs al is die ander party onskuldig.

Maar om jou broer, boonop jou identiese tweelingbroer, aan die pen te laat ry vir 'n moord wat jy gepleeg het, is regtig aaklig. Koelbloedig, om die minste te sê.

Dis presies wat Karl Smith 13 jaar gelede met sy broer, Kevin Dugar, aangevang het. Maar hy het nou ’n gewete begin ontwikkel en gedink dis tyd om die saak reg te stel. Hy het sy tyd goed gekies. Dit sou die eerste keer in jare wees dat die twee mekaar van aangesig tot aangesig sien. (Karl het sy ma se nooiensvan aangeneem; Kevin het die familie se van behou.) “Ek’s hier om te erken ek het ’n misdaad gepleeg waarvan hy (Kevin) beskuldig word,” het Karl die Leighton-hof in Chicago, Amerika, verlede Donderdag ingelig. Dis nie juis die woorde wat by 'n langverwagte familiereünie te wagte sou wees nie. Die tweeling was immers van kleins af onafskeidbaar. Hulle het tot gr. 8 dieselfde klere gedra, sokkies, skoene en selfs toebroodjies gedeel. Deesdae is albei se kop kaalgeskeer en hulle het dieselfde soort baard.

Al wat die twee tydens hierdie skokkende oomblik in die hof van mekaar onderskei het, was die klere wat hulle aangehad het, hul gevangenisklere . . .

Karl (39) is besig om ’n vonnis van 99 jaar uit te dien vir ’n gewapende roof in 2008 waartydens ’n sesjarige seuntjie doodgeskiet is.

Sy broer, Kevin, is reeds van 2003 af in aanhouding vir moord. ’n Gewapende man in swart geklee het in Maart 2003 skote op ’n groep van drie mense geskiet. Die groep was deel van die Black P Stones. Daar was ’n vete tussen dié groep en die tweeling se bende, die Conservative Vice Lords.

Dwelms was deel van die bendes se “werksaamhede”. Antwan Carter het tydens die aanval gesterf. Ronnie Bolden het oorleef ten spyte van drie skote wat hom getref het.

Hy het “Twin” as die skuldige geïdentifiseer, die naam vir albei die tweeling wat ’n gewoonte daarvan gemaak het om plekke met mekaar te ruil. Kort ná die moord is Karl deur die polisie voorgekeer. Maar, soos die tweeling se gebruik was, het hy voorgegee dat hy eintlik Kevin is. Hulle het hom laat gaan.

Bolden wou eers die saak op die bendemanier besleg, naamlik op straat wraak neem. Maar ná ’n maand het hy daarteen besluit.

Tydens ’n uitkenningsparade, waar Kevin maar nie Karl teenwoordig was nie, het Bolden sy skuif gemaak. Hy het ook die ander ooggetuie, ene Monique Boykins (16), aangesê om Kevin as die skuldige uit te wys.

In 2005 word Kevin van moord aangekla en tot 54 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy het glo daardie tyd vir Smith gevra of hy enigiets met die moord te doene gehad het. Karl het dit ontken.

Drie jaar gelede het hy ’n brief aan Kevin geskryf. “Ek moet dit van my bors afkry voor dit my doodmaak,” het hy glo in klein skrif geskryf ten einde soveel moontlik inligting op ’n bladsy te kon indruk.

“Ek kan net bid dat jy my sal vergewe . . . ek is die een wat die twee Black Stones daardie aand op Sheridan geskiet het.”

Stilswye aan die kant van Kevin dryf Karl weer na die pen. “Die rede hoekom ek f**** gesê het daardie tyd was omdat ek nie die krag gehad het, of dit kon vind, om dit te doen nie.”

Kevin het eindelik reageer en in 2014 het Karl ’n verklaring afgelê waarin hy bevestig dat hy die moordenaar is.

Volgens hom het hy eers skote met ’n .38-vuurwapen afgevuur. Toe Carter op die grond neerval het hy ’n .32-pistool uitgeruk en vir Bolden geskiet.

Sy volgende stop was die drankwinkel.

Staatsaanklaers betwyfel egter Karl se opregtheid. Die polisie het hom glo gereeld genader om vrae te beantwoord, maar hy het dit nooit gedoen nie. Die tweeling se ma, Judy Dugar, het haar seuns vir die eerste keer in jare gesien. Sy het hulle nooit in die tronk besoek nie. Maar sy voel seergemaak dat die aanklaers nie vir Karl glo nie.

“Hy sal nie daaroor jok nie,” het ’n tranerige Judy gesê. “Ek hoop Kevin kom uit. Ek hoop hy kan sy lewe verander, hy móét,” het sy in trane ná afloop van die verrigtinge gesê.

Tweelinge wat moor

1. Stephen en Robert Spahalski van Rochester (New York, VSA) (gebore 1954) het gewapende rooftogte van ouderdom 17 uitgevoer. Van 1973 het hulle misdaadloopbaan in alle erns afgeskop. Stephen het ’n winkeleienaar doodgeskiet en Robert het verskeie moorde gepleeg.

2. Die Bawcum-tweeling (Gebore 1988)

Toe hul ma ’n vuurwapen in die elfjariges van Noord-Carolina in Amerika se kamer vind, het ’n stoeiery gevolg. Sy is in die arm geskiet. Hul pa was minder gelukkig. Hy’s twee keer in die nek geskiet en het gesterf.

Hul 16-jarige suster is ook deur die tweeling geskiet. Met die polisie se aankoms, het een van die tweeling heel kalm ’n hasie sit en voer. Die tweeling kon eers geïdentifiseer word nadat hulle 18 jaar oud geword het: Nathan en Justin.

3. Tasmiyah en Jasmiyah Whitehead (Gebore 1994)

Toe hul ma hulle met ’n pot begin dreig omdat hulle laat vir skool sou wees, het die tweeling van Conyers, Georgia, ’n blompot op hul ma se kop gebreek en haar met ’n medalje-lintjie gewurg.

Daarna het hulle haar met ’n kombuismes aangeval, in die bad gegooi en gekyk hoe sy doodgaan. Hulle beweer haar laaste woorde was dat sy hulle gehaat het. Hulle het die toneel net so gelos en eers skool toe gegaan.

4. Lydelle en Laycelle White (Gebore 1978)

Dié vyftienjarige tweeling se kriminele rekords het reeds drie jaar voor die moord op ’n bejaarde egpaar in Salem, Oregon, die eerste inskrywing gekry. Daarna het klagte van inbraak, verskuilde wapens en seksuele aanranding gevolg. Die bejaarde paartjie, Richard (82) en Grace Remy (80), is brutaal aangerand en verwurg.

5. Gerald en Jared Smith (Gebore 1996)

’n 35-jarige vrou is in Junie 2014 in Fresno, Kalifornië, deur die 18-jarige tweeling aangerand. ’n Fietsryer, Nathan Halsted (49), het tussenbeide tree, maar hulle het hom bewusteloos geslaan. ’n Motoris het stilgehou om Nathan te help en die tweeling het weggehardloop.

’n Tweede motoris het geswenk om Nathan se fiets te vermy - en so bo-oor hom gery. Vingerafdrukke op een van die motors se enjinkap het tot die tweeling se inhegtenisneming gelei.

Die tweeling se ma glo hulle is onskuldig en dat iemand anders hulle aangeval het.

6. Vincent en Marcus Stanford (Gebore 1991)

Dis een van die mees onlangse misdade waarby 'n tweeling betrokke is. Vincent het Stephanie Scott, 'n onderwyseres van Leeton in Australië vermoor en verkrag. Hy het daarna haar ringe en bestuurlisensie na sy broer, Marcus, in Suid-Australië gestuur. Op sy beurt het Marcus die items verpand en van die opbrengs gebruik om 'n vlugkaartjie van Sydney na Adelaide te koop om sy broer in die gevangenis te besoek.

Bronne: chicagotribune.com, smh.com.au, washingtonpost.com, listverse.com, 11alive.com