Prins William (31) en sy vrou, die hertogin van Cambridge (31), laat glo woonstel 1A van die Kensington-paleis in Londen opknap voor hulle daar intrek en het glo ’n fortuin bestee om ’n luukse woning vir hul eersteling te skep.

Donderdag 27 Junie is deur die Buckingham-paleis se jaarstate verklap dat bouwerk en herstelwerk aan die dak die belastingbetalers reeds sowat R15,5 miljoen uit die sak gejaag het. Dit was die vonk in die kruitvat vir diegene wat die koningsgesin verpes.

Graham Smith, die uitvoerende hoof van die drukgroep Republic, het aan die koerant Daily Mirror gesê: “Die koningin met haar as R15,5 miljoen van die publiek se geld gevat om haar kleinseun se blyplek te laat opknap. As ’n minister dit sou doen, sou hy of sy met goeie reg in die pad gesteek word.”

Sir Alan Reid het egter volgehou die instandhoudingswerk was noodsaaklik en gesê “die geld moet in elk geval uitgegee word”.

Volgens die verslag het R6,2 miljoen gegaan vir herstelwerk aan die dak en R9,3 miljoen is bestee om die woonstel binne mooi te maak. Asbes moes ook verwyder word ter wille van die egpaar se baba, wat na verwagting middel Julie gebore word.

Kate en Wills sal darem self betaal vir die binnenshuise versierings en meubels.

Hou jy van Kate se jas? Koop 'n soortgelyke een in ons aanlyn-modewinkel - KLIK HIER.kate-spree-web