Vir die meeste ouers is hul kinders se blote bestaan reeds ’n enorme bron van trots, wat nog te praat van wanneer boeta by Saterdagoggend se wedstryd ’n drie druk of sus ’n A vir die wiskundetoets kry. Maar sommige ouers is effe moeiliker om tevrede te stel, soos die opdringerige ma’s en pa’s in die Britse werklikheidsreeks Child Genius.

In elke episode meet jong, talentvolle kinders kragte in alles van spelkompetisies tot moeilike wiskundesomme en algemene kennis, en word die kinders met die laagste punt uitgeskakel.

Terwyl die kindergenies die uitdagende vrae moet baasraak, kyk hul oormoedige ouers toe en word hulle aangemoedig en gedissiplineer om beter te vaar.

In die reeks kan kykers byvoorbeeld sien hoe die 10-jarige klaviermaestro Curtis Elton, wat die jongste kind ooit is om die gr. 8-klaviereksamen te slaag, en boonop hard aan die werk is om sy land by die 2022 Olimpiese Spele as ysskaatser te verteenwoordig, moet deelneem om te bewys hy is nie net musikaal en atleties aangelê nie, maar ook slim.

Ook Tudor Mendel-Idowu, ’n agtjarige akademiese uitblinker wat vir drie junior premierligas sokker speel, voel sy ouers se druk. Wanneer Tudor nie presteer soos wat hy of sy ouers gehoop het nie, blyk dit sy pa is meer teleurgesteld as hy.

“Dalk is jy net nie so goed soos wat ons gedink het nie,” sê sy pa in die reeks.

Die omstrede reeks het opslae gemaak, en party beskryf selfs die ouers se optrede as mishandeling.

Wat sê die kenners?

’n Kliniese sielkundige van Kaapstad, Nicole Roux, sê dit is nie net die ouers wat hul kinders aan die program laat deelneem wat kommerwekkend is nie, maar ook die gewildheid van so ’n reeks onder kykers.

“Hierdie soort TV-reekse lok dikwels kykers omdat dit die gemiddelde ouer beter oor hulself en hul eie ouerskapvaardighede laat voel.”

Sy meen hoewel dit belangrik is om jou kind te motiveer en hulle doelwitte vir hulself te help stel, moet dit nie ten koste van jou kind se emosionele en sosiale ontwikkeling kom nie.

“In hierdie kinders se huishouding word baie klem gelê op prestasie, en die kinders se identiteite en menswees word naderhand gedefinieer deur hul prestasies, nie deur hul persoonlikheid nie.”

Motiveer so jou kind op ’n gesonde manier:

  • Moenie jou eie doelwitte op jou kind probeer afdwing nie. Laat hulle eerder hul eie belangstellings en talente ontdek en laat toe dat dit hulle motiveer, pleks van ’n passie probeer voorskryf.
  • Laat jou kind foute maak en daaruit leer. Jou kind sal waarskynlik self insien hy moet harder werk as hy die eerste swak wiskunde-toetspunt terugkry.
  • Gebruik subtiele belonings. As jou kind lief is vir rekenaarspeletjies, mag hy byvoorbeeld eers rekenaar speel nadat sy werk afgehandel is.
  • Praat met jou kind en help hulle om die langtermynwaarde van motivering te verstaan. Hoewel jou kind dalk nie kan insien waarom hul vervelige skoolwerk belangrik is nie, kan jy uitwys dat goeie punte hulle universiteitstoelating sal help kry en hul droomloopbaan kan laat volg, of dat die ekstra sportoefening vandag hulle ’n plek in die span gaan help verower.
  • Erken en aanvaar jou kind se tekortkominge. Nie alle kinders is sportief of wiskundegenies nie; aanvaar jou kind se swakpunte en fokus eerder op hul sterkpunte.

Kyk hier na die program se lokprent:

- Mieke Vlok

Bronne: Daily Mail, The Independent, channel4.com, empoweringparents.com, parents.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.