Die weermag is gewapen, gereed en staan wag buite belangrike Britse wonings en instellings soos die Buckingham-paleis, Britse parlement en ambassades. Dít volg nadat die Britse eerste minister, Theresa May, gewaarsku het oor verdere dreigende terreuraanvalle.  

Engeland rou nadat ’n terreuraanval in Manchester 22 lewens geëis en meer as 100 mense beseer gelaat het. Die aanvaller het op ’n konsert van die gewilde popster Ariana Grande toegeslaan. Baie van die slagoffers is tieners en jong kinders.   Die terreurgroep Isis het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. Daar word vermoed die selfmoordbomaanvaller is Salman Abedi, ’n 22-jarige man van Libiese afkoms.   Sowat 1 000 soldate is ontplooi, berig Daily Mail, en alle gebeure en toere by die parlement is ook uitgestel tot verdere kennis.  

Scotland Yard het bevestig die weermag sal “gewapen wag hou by sleutelplekke”, insluitende die Buckingham-paleis, Downing Street, waar die premier en ander staatsamptenare woon, ambassades en die paleis by Westminster.