Lugmagowerhede in Brittanje staan bont om te probeer uitpluis wat gelei het tot die neerstorting van ’n Hawker Hunter vliegtuig Saterdag tydens ’n lugskou in Shoreham.

Die vliegtuig het op ’n besige hoofweg neergestort en minstens 11 mense is dood.

Die vlieënier, Andy Hill (51), is in ’n kritieke toestand in die hospital opgeneem.

Daar word nou gespekuleer dat dié hoogs ervare loots met jare se ondervinding dalk sy bewussyn tydens ’n toertjie verloor het.

Andy was besig om ’n gevaarlike manoeuvre uit te voer waarin hy die vliegtuig onderstebo laat vlieg het. Hy het neetgestort toe hy die vliegtuig weer regop gebring het.

Foto’s wat tydens die voorval geneem is, laat dit lyk asof Andy se kajuit vooruit geskiet het toe sy vliegtuig die grond tref. Dit kan dalk die rede wees oor hoekom hy die val oorleef het.

Die res van die Hawker Hunter het in ’n vlammebol op die hoofweg ontplof en etlike motors verswelg.

Die presiese dodetal is nog nie bevestig nie. Die vliegtuigwrak gaan vandag geskuif word om te kyk of daar nie nog liggame onder die wrakstukke is nie.

Die ongeluk is deur verskeie toeskouers van die lugskou op film vasgelê. Al hierdie videomateriaal gaan nou deur ondersoekbeamptes gebruik word om te probeer uitpluis presies wat gebeur het.

Bronne: Daily Mail; BBC